Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Skuif die kieslys heen en weer

RUSTENBURGBERAAD

Skrywer: JM van der Merwe

RUSTENBURGBERAAD het van 5 tot 9 November 1990 by die Hunters’ Rest Hotel buite Rustenburg plaasgevind. Saam met die Cottesloe-beraad* van 1960 staan dié beraad uit as een van die belangrikste ekumeniese* byeenkomste in die 20ste eeuse geskiedenis van Suid Afrika. Die aanloop tot die konfe­rensie het reeds in 1989 begin toe pres FW de Klerk* tydens sy Kersboodskap ’n beroep op kerke in die land gedoen het om ’n klimaat te help skep wat bevorderlik sou wees vir onderhandeling en versoening. Tydens ’n vergadering in Junie 1990 is besluit om ’n konferensie in November 1990 byeen te roep. Dr Louw Alberts* en past Frank Chi­kane* sou as voorsitters optree.

Die konferensie sal in die geskiedenis onthou word vir die duidelike belydenis van prof WD Jonker*, een van die sprekers uit NG Kerk*-geledere. Jonker het, diep onder die indruk van die feit dat hy geen ander keuse gehad het nie, tydens sy voordrag aan die konferensie die volgende belydenis gedoen: “I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic and structural wrongs … but vicariously I dare also do that in the name of the Dutch Reformed Church of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole.” In reaksie op hierdie belydenis het aartsbiskop Desmond Tutu* opgestaan en gesê: “We forgive you.” Die NG Kerk se vier amptelike afgevaardigdes (PC Potgieter*, DJ Hattingh*, P Rossouw* en FM Gaum) het Jonker se belydenis onderskryf omdat dit in ooreenstemming was met die besluite van die Algemene Sinode die vorige maand in Bloemfontein..

Trane van dankbaarheid en vergifnis het gevloei. Hierdie gebeure is soos telkens in die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan die een kant met groot dankbaarheid begroet; aan die ander kant was daar ongelukkigheid en wrewel. Ondanks dié reaksie was die belydenis vir die NG Kerk ’n oomblik van bevryding en het dit sonder meer geslaag in die doel wat pres De Klerk in 1989 gevisualiseer het.

Print Friendly, PDF & Email
Deel hierdie blad:
Opgedateer: 30 Mar, 2016

0 Comments

Submit a Comment

Om kommentaar te lewer op lemmas, foute uit te wys, voorstelle vir nuwe lemmas te maak of byvoegings aan die hand te doen, voltooi asb die onderstaande vorm en e-pos dit aan: Die Hoofredakteur: eCKE by [email protected]

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui