DU RAND, JAN ABRAHAM (JAN)
DU RAND, JAN ABRAHAM (JAN) (1945–). Du Rand, soos sy pa, word predikant in die NG Kerk* en studeer aan die universiteite van Pretoria, Vrystaat en Wurzburg, waar hy in 1977 sy DD behaal. Hy slaag al sy grade met lof. Hy bedien die gemeente Krokodilrivier vanaf 1973 en daarna betree hy die akademiese wêreld. In 1980 word hy professor en hoof van die departement Nuwe Testament* aan die Vrystaatse Universiteit, en in 1989 professor-navorser en hoof van die departement Bybel- en Godsdienskunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy dien in verskeie kerklike kommissies en spits hom toe op Bybelvertaling*. Hy werk mee aan die Nuwe Lewende Vertaling (CUM) asook aan die nuwe amptelike (“direkte”) Afrikaanse Bybelvertaling van die Bybelgenootskap* van Suid-Afrika. Du Rand was ’n medewerker aan Die Bybel A-Z en skrywer van Die A-Z van Openbaring wat in 2004 en 2008 met die Andrew Murrayprys* bekroon is. In 2013 verskyn sy belangrike werk, Die Einde, waarvoor hy in 2014 weer die Andrew Murrayprys ontvang. Sy hoogste prioriteit – “om die Woord so suiwer moontlik aan die woord te stel” – vind gestalte in sy publikasies vir lidmate oor die Evangelie van Johannes* en Openbaring*. Hy ontvang die Pieter van Drimmelen-medalje* van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Eeufeesmedalje vir Teologie van die Universiteit van die Vrystaat, en hy is deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing as topteoloog gegradeer.
Kommentaar
Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar