ZEE, PETRUS STEFANUS ZA­CHA­RIUS (OOM PIETIE)

COETZEE, PETRUS STEFANUS ZA­CHA­RIUS (OOM PIETIE) (1885–1975) het op sy geboortedorp Boshof skoolgegaan totdat hy as 14-jarige penkop by ’n Boerekommando aan­gesluit het. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog* in 1902, ontvang hy sy ver­dere skoolonderrig op Franschhoek. Aan die Victoria-kollege (die latere Universiteit van Stellenbosch) kry hy die graad BA en word daarna wiskunde-onderwyser op Reddersburg en Winburg. In 1910 is hy terug Stellenbosch toe en in 1913 lê hy die proponentseksamen af. Hy was predikant van die NG gemeentes Odendaalsrus, Philippo­lis, Edenburg, Johannesburg en vanaf 1949 tot met sy aftrede in 1966 van De Bloem. Sedert 1956 was hy drie keer moderator* van die Vrystaatse si­node, en hy was ook aktuarius* van die Trans­vaalse sinode. In 1962 was hy saam met dr AJ van der Merwe* op die tweetal om die eerste moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk* te word, waarvan hy toe die assessor (ondervoorsitter) geword het. Tydens sy bedie­ning in Johannesburg het hy hom die lot van die minderbevoorregte Afrikaners* erg aangetrek en dit is grotendeels deur sy toedoen dat die barmhartigheidswerk van die kerk dáár op ’n wetenskaplik-georganiseerde basis geplaas is. So was die vorde­ring van die sending* in die Vrystaat ook in ’n groot mate aan sy arbeid en invloed te danke. Hy het van die Stellenbosse en Vrystaatse universiteite eredoktorsgrade ontvang.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar