VERENIGENDE CHRISTEN-STUDENTEVERENIGING (VCSV)

VERENIGENDE CHRISTEN-STUDENTEVERENIGING (VCSV). Die Christen-studentevereniging (CSV) is op 28 Julie 1896 gestig onder voorsitterskap van Andrew Murray*2. Die CSV, met ’n sterk evangeliese inslag, het jare lank ’n groot rol in die skool- en universiteitsgemeenskap gespeel en het die steun van die meeste kerke – veral ook die NG Kerk* – geniet. Mettertyd het ’n “Afrikaanse” in onderskeiding van ’n “Engelse” CSV ontstaan wat ’n gedwonge geskeidenheid veroorsaak het. Dit het verander met die totstandkoming van die Verenigende Christen-Studentevereniging (VCSV) – ’n nie-rassige, interdenominasionele Christelike jeugorganisasie waarvan die lidmaatskap oop is vir alle leerders en studente in Suid-Afrika. Die VCSV “wil elke generasie kinders en jongmense na ’n nuwe lewenstyl in Christus* begelei”. In 2015 het die VCSV takke in 809 skole en tersiëre inrigtings gehad. Die vereniging bereik jaarliks nagenoeg 500 000 kinders en jongmense deur middel van nasionale, vakansie-, naweek- en avontuurkampe, jeugfeeste, leierskapsopleiding, deernisprojekte ens. Die VCSV dien die onderwys deur die Extreme Life-opvoedkundige trust wat programme en dienste in lewensoriëntering voorsien. Die vereniging het 12 goed toegeruste kamptereinne en 76 voltydse personeellede (2015). Die uitvoerende hoof was in 2015 David Nefdt.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar