VAN SCHALKWYK, JOHANNES (JOHAN)

VAN SCHALKWYK, JOHANNES (JOHAN) (1947–) het aan die Universiteit van Stellenbosch en die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem* studeer, sy doktorsgraad op Stellenbosch verwerf en ’n paar keer as deeltydse dosent in Ou Testament* aan die universiteite van Pretoria en Stellenbosch opgetree. Hy was die predikant van die NG Kerk*-gemeentes Kroon­heuwel-Noord, Pretoria, Lynn­wood­rif, Stellenbosch en weer Lynn­woodrif, en is die skrywer van 48 boeke waaronder popu­lêr-godsdienstige werke oor Bybelse temas en -boeke asook ’n paar Bybelromans. Van Schalkwyk was die aanbieder van televisie­programme soos “Bybel ABC” en “Bybel­blok­tyd” en het radioprogramme behartig waarin die Bybel* populêr verklaar is van Genesis* tot Openbaring*. Hy speel ’n belangrike rol in die Lynnwoodrifse Bybel­skool met amper 700 studente per jaar. In 2007 het Van Schalkwyk die mode­rator* van die Oostelike Sinode van die NG Kerk* geword. Hy is geken as ’n be­houdende teoloog soos ook blyk uit die feit dat hy in 2007 gekies is as voorsitter van die destyds omstrede Evangeliese Inisiatief (EI)*, in sy woorde “’n organisasie wat hom beywer om die prominensie van die evangelie van Jesus Christus te bevestig deur ’n beweging binne die kerk vir die kerk”.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar