VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL)

VAN HUYSSTEEN, JACOBUS WENT­ZEL VREDE (WENTZEL) (1942–) het op Stellenbosch en in Amsterdam studeer, was predikant* van die NG Gemeente Noorder-Paarl (nou Paarl Toringkerk), professor in Bybelkunde aan die (destydse) Universiteit van Port Elizabeth, en was vir twee dekades die James McCord-hoogleraar in teologie* en wetenskap aan die Princetonse Teologiese Seminarium in die VSA. Hy hou hom besig met die vraag of en hoe dialoog tussen teologie en wetenskap gevoer kan word. Hy het verskeie belangwekkende boeke gepubliseer, die eerste daarvan Teologie as kritiese geloofsverantwoording wat in 1987 met die Andrew Murrayprys* bekroon is. In 2004 het hy die eerste Suid-Afrikaner en ook die eerste Princetonse teoloog geword wat genooi is om die prestigeryke Gifford-lesings in Edinburgh, Skotland, te hou. Sy lesings, uitgebrei in Alone in the World? Human Uniqueness in Science and Theology (2006), het gehandel oor menslike “uniekheid” soos gesien in die teologie en die wetenskap. Sy slotsom is dat die teologie en die wetenskap wél oor die “uniekheid” van die mens saam kan praat en in hulle dialoog wedersyds mekaar se insigte en beperkings kan erken, grense aanvaar en tog ook kruisbestuiwend kan werk. Met Alone in the World?, in 2007 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys*, bereik Wentzel van Huyssteen se filosofies-teologiese nadenke oor ons mens-wees ’n hoogtepunt.

Ná sy aftrede by Princeton in 2014 (en persoonlike tragedie die vorige jaar toe sy een seun, Daniël, op 42-jarige ouderdom in die VSA sterf), keer Van Huyssteen terug na Suid-Afrika en word buitengewone professor in die sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. In 2014 ontvang hy ook die toekenning as A-geëvalueerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting. Dié toekenning word gemaak aan top geëvalueerde navorsers wat beskou word as leiers in hulle onderskeie navorsingsvelde.

 

VRAAGGESPREK MET WENTZEL VAN HUYSSTEEN

 

Frits Gaum het in Mei 2003 ‘n onderhoud met Wentzel van Huyssteen gevoer.

Ons bestel herderspastei en witwyn en skuif reg vir ‘n goeie gesprek. My pad en dié van Wentzel van Huyssteen, sedert 1992 die James I McCord-hoogleraar in teologie en wetenskap aan die Teologiese Seminarium van Princeton, VSA, loop van veraf saam. Ons was studentevriende en het daarna oor dekades en soms duisende kilometers met mekaar kontak gehou al het ons in meer as een opsig in verskillende wêrelde gelewe. Deesdae word hy internasionaal beskou as een van die voorste teoloë op sy terrein.

 

FG: Wentzel, jy is ‘n kenner van die terrein wat te doen het met die verhouding tussen wetenskap en godsdiens. Jou boek, “The shaping of rationality”, wat in 1999 verskyn het, is in dié verband ‘n baken. Is daar ‘n wesenlike verskil tussen “wetenskap”, waar dit gaan oor feitelike bewysvoering, en “godsdiens”, wat te doen het met geloof in dinge wat meestal nié feitelik bewys kan word nie?

WvH: Ja, daar is ‘n wesenlike verskil tussen wetenskap en godsdiens. Ons het hier te make met twee verskillende lewensdomeine. In die wetenskap, by name die eksakte wetenskappe, baseer jy jou argumente sover as wat jy kan op bewysbare feite. In die godsdiens soek jy die sin van die lewe onder andere in rituele, geloof, tradisies … Dis nie noodwendig “bewysbare” dinge nie. Maar daar is ook ‘n verskil tussen godsdiens en teologie. In die Christelike teologie het ons ‘n 2000-jaarlange nadenke oor die godsdiens. Wat glo ons? Waarom glo ons so? Sodra ons beweeg van die belewingsvlak van godsdiens na die gesistematiseerde nadenke daaroor, kry ons te doen met die teologie. Dit wil op teologiese wyse nadink en navors oor die verskillende groot temas wat in die godsdiens ter sprake kom. Die kennis wat ons sodoende verkry, is geldige en geloofwaardige kennis. Daar is iets soos “goeie teologie” wat voldoen aan bepaalde kriteria wat ons aan ons kennis stel en wat deel is van die hoofstroomdenke daaroor. Daar is ook “slegte teologie” wat nie aan dié kriteria voldoen nie.

 

FG: Die godsdiens en die wetenskap het tog met mekaar te doen?

WvH: Soos ek gesê het, wetenskap en godsdiens is nie dieselfde nie. Maar hulle beïnvloed mekaar wedersyds en die vlak waar dié beïnvloeding bymekaar kom, is die vlak van teologiese besinning. Die interaksie tussen wetenskap en godsdiens vind plaas via die teologie. Sowel die wetenskap as die godsdiens het sekere grense. Daar is groter vrae wat nie deur feitelike gegewens bewys kan word nie, daar is ook vrae oor die werklikheid wat nie deur die godsdiens beantwoord kan word nie. En dit is oor daardie grenssituasies wat die teologie ‘n bydrae vanuit Christelike perspektief te lewer het. Die teologie het ‘n publieke verantwoordelikheid teenoor die wêreld. Ons het vanuit die teologie iets te sê oor openbare kwessies soos  aborsie of rassisme of noem maar op.

 

FG: Die laaste tyd is in Suid-Afrika debat gevoer oor die “feit” – soos sommige rubriekskrywers dit in die dagbladpers gestel het – dat daar ‘n onoorbrugbare kloof tussen wetenskap en godsdiens bestaan. Jou kommentaar?

WvH: As iemand sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens, het hy of sy klaar begin om een van die twee te verabsoluteer. As die wetenskap buite sy eie grense tree en bepaalde lewensvrae – soos oor die sin van die lewe – probeer beantwoord, dan word die wetenskap self ‘n soort godsdiens! Dan kry ons ‘n fundamentalisme by die wetenskap – dit word “scientism” genoem – waar hy nie bereid is om sy beperkinge te erken nie. Nee, ons kan nie sê daar is ‘n “onoorbrugbare kloof” tussen wetenskap en godsdiens nie. Ons moet eerder sê albei het te doen met sekere vlakke van sin en ons moet erken dat daar vrae is waarmee albei te doene kry en wat oorvleuel. Soos oor die kosmologie, oor die oorsprongsvrae. Waar kom lewe vandaan? Dis vrae wat die grense tussen wetenskap en godsdiens oorsteek en dis onder andere die soort sake waarmee die teologie hom moet besig hou om juis ‘n brug tussen wetenskap en godsdiens te span.

 

FG: Waarom is dit vir jou belangrik dat ons godsdiens ook rede-lik verklaar moet kan word? In “The shaping of rationality” het jy heelwat daaroor te sê …

WvH: Die teologie is ‘n geldige vorm van kennis en daar speel die rede vanselfsprekend ‘n rol. Die teologie werk nie met empiriese kennis soos wat die eksakte wetenskappe dit doen nie, maar die kennis waaroor die teologie en die sosiale wetenskappe beskik, is net so geldig as dié van ander wetenskappe.

 

FG: Jy dra ‘n kruis om jou nek. Dis tog merkwaardig vir ‘n gesofistikeerde postmoderne teoloog soos wat ek jou sou wou beskryf. Wat beteken daardie kruis vir jou?

WvH: “Postmodern” is natuurlik nie so maklik vas te pen nie … dis ‘n manier van dink oor die wêreld, dis ‘n houding … dis in elk geval anders as wat dit in die sogenaamde moderne tyd was toe alle vorme van kennis as gelyk beskou is. Daar is nou ‘n baie groter mate van openheid, ‘n onwilligheid om te verabsoluteer. Postmodernisme het verskillende kante, daar is goeie en slegte aspekte daarvan. Ja goed, ek kan my vereenselswig met ‘n konstruktiewe vorm van postmoderniteit en in daardie opsig is ek miskien ‘n postmoderne teoloog. In hierdie tyd met sy baie groter openheid en wisselwerking en bereidheid om na mekaar te luister, is dit juis baie belangrik om te sê waar jy staan en wie jy is. Jy kan nie neutraal wees nie, in elke gesprek – om so te sê – moet jy al jou kaarte op die tafel sit. Jou gespreksgenoot moet weet in watter stroom jy swem. En ek swem in die Christelike stroom, daaraan hoef niemand te twyfel nie. Die kruis om my nek is ‘n teken van waar ek my bevind, waarmee ek my identifiseer, waar ek tuis voel. Die kruis sê waar ek staan.

 

FG: In jou voorwoord tot Ben du Toit se boek, “God? Geloof in ‘n postmoderne tyd”, het jy geskryf: “God is óf alles óf niks. Hy bestaan of bestaan nie, God is óf oorweldigend belangrik of totaal onbelangrik, relevant vir almal of irrelevant vir alles.” Bestaan die God wat ons in die Christelike dogma ken as Vader, Seun en Heilige Gees, Wentzel?

WvH: Ek glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ek het ‘n diepe betrokkenheid by die tradisie waarin ek staan. En omdat ek in God glo, beteken dit dat God bepalend is vir my hele bestaan, vir al my denke. Al is die bestaan van God die Vader, Seun en Heilige Gees nie empiries te bewys nie, bring my geloof in dié God mee dat alles wat wel empiries bewys kan word, daardeur in ‘n bepaalde raamwerk geplaas word.

 

FG: Bestaan Islam se God ook, en die Jode se God, en die Hindoes s’n …?

WvH: Die oorsprong van die Abrahamitiese godsdienste – die Joodse geloof, Islam, die Christendom – is dieselfde. God het Hom aan Abraham bekend gemaak en met hom ‘n verbond gesluit en die Jode, die Moesliems en die Christene beskou almal vir Abraham as die vader van die geloof. Méér kan ek eintlik nie daaroor sê nie. As ek oor God praat, dié God in wie ek glo, praat ek vanuit ‘n bepaalde perspektief oor Hom, die Christelike perspektief. As ons oor die nie-Abrahamitiese godsdiens sou praat – die Hindoeïsme, Boeddhisme – dan kom ander sake ter sprake. Hulle siening van God, of gode, verskil wesenlik van die godsdienste wat in Abraham ‘n verbindingspunt het. Dit moet in die dialoog met ander godsdienste in gedagte gehou word.

 

FG: Jy praat van “dialoog”. Is die tyd van sending dan nou verby?

WvH: Die tyd van aggressiewe, kolonialistiese sendingaksies is seker verby, ja. Die hedendaagse sending behoort ‘n meer dialogiese karakter te hê waarin jy duidelik sê waarom jý ‘n Christen is en dit op geen manier verdoesel en neutraliseer nie. Om dit so te stel: jy kom met jou kruis om die nek na die dialoog en jy voer die gesprek deurentyd vanuit daardie perspektief.

 

FG: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” en hulle Suid-Afrikaanse skakel, “Die Nuwe Hervorming”, het die afgelope tyd onder kerkmense in Suid-Afrika opslae gemaak. Hoe sien jy hierdie bewegings … as ‘n mens dit so kan noem?

WvH: Die Amerikaanse “Jesus Seminar” is in die VSA een van baie stemme. Hulle is nie verbind aan die een of ander kerk nie en hou hulle besig met die die vraag wat die historiese Jesus, losgemaak van wat die kerk deur die eeue oor Hom verkondig het, vandag vir ons te sê het. Die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika sluit in bepaalde opsigte daarby aan, maar het ook ander beklemtonings.

Die teologie het na my mening twee kante. Dit moet enersyds sorg dat die kontinuïteit in ons godsdiens behou word. Die teologie moet daartoe bydra dat ons godsdiens steeds herkenbaar Christelik is. Aan die ander kant moet die teologie ook krities omgaan met die tradisie en aantoon waar daar verwording plaasgevind het én waar daar progressie is. Maar as die teologie in sy kritiek die Christelike geloof in sy kern begin aantas, het jy ‘n probleem. Dan word die kontinuïteit verbreek en het ons nie meer met Christelike teologie te doen nie, maar met iets anders. As die identiteit van die Christelike geloof deur die teologisering daarvan aangetas word, word oor ‘n grens gegaan wat die teologie self ook in die gedrang moet bring.

So is dit byvoorbeeld met die opstanding van Jesus Christus. As die teologie dit wil ontken, tas die teologie die Christelike geloof in sy kern aan en gaan die teologie óór die grens. Maar die teologie kan natuurlik praat oor die hoe of die wyse van opstanding. Iets het daar gebeur – iets wat ons begrip te bowe gaan. Jesus se opstanding uit die dood kan dalk gesien word as iets groter as ‘n historiese gebeurtenis, maar nie as iets wat kleiner as ‘n historiese gebeurtenis is nie.

Die punt is: die wyse waarop die Evangelies van die opstanding vertel, die getuienis wat getuies daarvoor aanvoer – dit alles dui daarop dat dit ‘n historiese kern het. Só word dit aangedien. Dis anders as byvoorbeeld die skeppingsverhaal in Genesis 1. Dit het nie dieselfde soort segmentasie nie. Ons moet maar altyd onthou dat verskillende dele van die Bybel hulle verskillend aandien – gedigte, verhale, reisbeskrywings – en dat alle dele nie maar op dieselfde manier verklaar en verstaan kan word nie.

Maar op die ou end bly die evangelie vreemd en anders … vir die mense van álle tye, nie net vir postmoderne mense nie! En dit is die verantwoordelikheid van die teologie om, ten spyte van die vreemdheid en andersheid van die evangelie, in gesprek te tree met die mense van ons tyd, met die kulture en wetenskap van ons tyd.

Jy het gevra oor die Nuwe Hervorming. Al wat ek wil vra, is: wat is nou eintlik nuut daaraan? Want die sake wat hulle te berde bring – oor die Bybel en die skepping en die maagdelike geboorte en opstanding van Jesus – is darem alles so oud soos die berge.

 

FG: Jy is die redakteur van ‘n belangrike publikasie wat pas (2003) verskyn het. Sê asseblief iets daaroor.

WvH: Dit is die tweedelige ensiklopedie oor godsdiens en wetenskap wat by MacMillan (New York) verskyn het. Daar is 529 artikel in dié ensiklopedie en meer as 400 wetenskaplikes en godsdiensteoloë van oor die hele wêreld het daaraan meegewerk. Dit vertel gesaghebbend oor die geskiedenis van elkeen van die groot wêreldgodsdienste en bespreek die uitdagings waarmee hulle in ons tyd te doen het. Die ensiklopedie beslaan ‘n halfmiljoen woorde en is so gesaghebbend as wat jy seker kan kry.

 

FG: Die onlangse uitnodiging aan jou om in 2004 ‘n besondere reeks lesings aan die Universiteit van Edenburgh te hou, bevestig jou aansien as internasionale teoloog. Wat is die geskiedenis van dié lesingsreeks?

WvH: In die 1880’s het Lord Gifford geld nagelaat aan die historiese universiteite van Skotland met die opdrag om jaarliks lesings aan te bied oor die verskynsel van “natural theology” – ons sal vandag sê die verhouding van teologie en wetenskap. Die afgelope eeu is bekendes soos Albert Schweitzer, Karl Barth, Rudolf Bultmann, Paul Ricoeur en David Tracey genooi om die lesings te kom hou, die sg “Gifford Lectures”. Ek hou in 2004 ses lesings aan die Universiteit van Edenburgh oor hoe die probleem van die menslike uniekheid verskillend gesien word in die wetenskap en teologie.

 

FG: Kom jy na al die jare in Princeton en jou internasionale blootstelling weer eendag “huis toe”?

WvH: Ja! Ek kom in Suid-Afrika aftree. Maar ek weet nog nie presies wanneer dit sal wees nie. My vrou, Hester, sal sommer nou wil terugkom, maar daar is nog ‘n paar dinge wat ek graag sou wou doen. Ek moet eers my roeping – noem dit maar so – voltooi. Maar ja, uiteindelik wil ons weer huis toe kom.

 

Onderhoud, 14 Mei 2003

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar