THERON, PHILIPPUS FRANCOIS (FLIP)

THERON, PHILIPPUS FRANCOIS (FLIP) (1942–2011) is in die distrik George gebore en studeer aan die Universiteit van Pretoria. In 1978 promoveer hy oor Die Ekklesia as kosmies-eskatologiese teken: Die eenheid van die kerk as “profesie van eskatologiese vrede”. Van 1981 tot met sy aftrede in 2003 was hy dosent in die dogmatologiese* vakke aan die Teo­logiese Fakulteit op Stellen­bosch. As voorsitter van die NG Kerk* se algemene sino­dale kommissie vir leer en aktuele sake het hy meermale ’n groot rol gespeel om behoudende en vernuwende gedagtes met mekaar te versoen. So het hy ’n deurslaggewende by­drae gelewer om die “kindernagmaal” (die bediening van nagmaal* ook aan kinders) in die kerk deur te voer. Theron was stig­ters­lid van die International Reformed Theological Institute en het meermale lesings aan buitelandse universiteite gegee. Vir Theron was sy legitimasie*-belofte ’n saak van erns, wat beteken dat die Refor­matoriese (Kyk by: Reformasie; Hervorming) tradisie vir hom belangrik was. Sy teologie was egter nie wetties nie, hy wou eerder die motiewe wat die Hervormers gedryf het, ernstig opneem.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar