STEYNBERG, COERT

STEYNBERG, COERT (1905–1982) het bekendheid verwerf met sy monumentale openbare beeldhouwerke wat skerp gefokus was op die Afrikaners* se kultuurgeskiedenis. Hy behaal in 1928 ’n diploma aan die kunsskool in Grahamstad en in 1930 die ARCA-diploma in Londen waar hy die August Spencer-trofee wen. Van Steynberg se bekendste beeldhouwerk is die ruiterbeelde van genl Christiaan de Wet* in Bloemfontein en dié van genl Louis Botha* in Pretoria. Sy Bloedrivier*-monument stel die kakebeenwa as kerk, woning en vesting voor. Die sentrale vrouefiguur van die Hugenote*-monument in Franschoek verpersoonlik die Hugenote se stryd om godsdiens- en gewetensvryheid soos onder andere simbolies voorgestel deur die Bybel* in die figuur se regterhand en gebreekte kettings in haar linkerhand. Die Vredesmonument in Vereeniging het as byskrif “Gewondmaar nie oorwonne” wat na die geloof, hoop en moed van die Boere ná die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902) verwys. Steynberg se bekendste nie-monumentale werk is waarskynlik dié van Mabalel, getiteld Klingende enkelringe. Sy portrette (dikwels opdragwerk van openbare figure) vorm deel van Steynberg se kuns-historiese erfenis.

Steynberg is in 1952 tot Fellow of the Royal Society of Artists of Great Britain verkies. In 1953 het hy die erepenning vir beeldhouwerk van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Vir verdere lees: FAK 1989. Afrikanerbakens Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar