STEWART, JAMES

STEWART, JAMES (1831–1905) is in Edinburgh gebore en vandat hy 15 jaar oud was, en ook later terwyl hy geboer het, wou hy sendeling* word. Hy is opgelei as onderwyser en mediese dokter, en is in 1865 as sendeling in die Free Church of Scotland georden. Hy is in 1866 met Mina Stephen getroud. Op 2 Januarie 1867 het hulle te Lovedale* in die Oos-Kaap aangekom en drie jaar later is hy as hoof van dié inrigting aangestel – wat hy 35 jaar lank sou wees. Lovedale het die model vir sulke inrigtings geword, en Stewart het ook as kerkleier ’n belangrike invloed uitgeoefen. Klasse is in bedryfsopleiding en ook in akademiese en teologiese* vakke gegee. In 1867 het Stewart nog ’n opleidingskool by Blythswood naby Butterworth gestig, en die Skotse Livingston-sending in Nyassaland (Malawi) tussen 1876 en 1877 met studente van Lovedale om dit te bedien. In 1891 het die Oos-Afrika-sending Livingstonia gevolg. Stewart was die voorsitter van die groot algemene sendingkonferensie wat in 1904 gehou is, net ’n jaar voordat hy oorlede is. Hy is by Sandile se Kop buite Alice begrawe. Lord Milner het hom “the greatest human in Africa” genoem.

Vir verdere lees: J Wells 1909. Stewart of Lovedale: The life of James Stewart Londen: Hodder & Stoughton.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar