SIGEM

SIGEM is die naam van ’n belangrike stad in die tye van die Bybel* en van ’n persoon.

  1. Sigem was ’n ou Kanaänitiese* stad en ’n belangrike religieuse en politieke sentrum in Israel*. Dit was geleë in die bergland van Efraïm*. Reeds in die tyd van die aartsvaders* het dit ’n belangrike rol gespeel. Dis hier waar Abraham* volgens oorlewering oorgebly en ’n altaar* vir die Here* gebou het (Gen 12:6-8). Ook Jakob* word met Sigem verbind. Volgens tradisie het hy ’n stuk grond naby die stad van Gamor, die koning van Sigem, gekoop en daar ’n altaar gebou (Gen 33:19-20). Dis op hierdie selfde stuk grond waar die liggaam van Josef*, wat uit Egipte* saamgekom het (Eks 13:19), begrawe is (Jos 24:32). Dat Sigem besondere religieuse waarde gehad het, word bevestig in Gen 35 waar vertel word dat Jakob* die afgodsbeelde* wat hy by sy huislede gekry het, daar begrawe het (vers 4). Toe Israel Kanaän* verower, was Sigem die plek waar hulle die verbond* hernuwe het (Jos 24). Ná die verdeling van die Verenigde Koninkryk van Salomo*, met Juda*4 in die suide en Israel*4 in die noorde, was Sigem Jerobeam*1, die eerste koning van die Noordelike Ryk (Israel), se keuse as hoofstad (1 Kon 12:25). Ook in die tyd van die Samaritane* was Sigem ’n belangrike stad, want dis daar waar hulle ’n tempel opgerig het. Dit is ook as een van die asielstede* beskou (Jos 20:7).
  2. Dit is die naam van die man wat Dina*, die dogter van Jakob*, verkrag het (Gen 34:1-31). Hy was ’n Hewiet en die seun van ’n volksleier. Waarskynlik het sy pa sy seun na die plek vernoem waarvan hy ’n leier was.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar