ROOME, FRANCIS XAVIER (JOHN)

ROOME, FRANCIS XAVIER (JOHN) (1863–1937) se pa was ’n Ierse handelaar in Kaapstad – vandaar die feit dat hy na ’n Katolieke* heilige vernoem is. Sy pa is oor­lede toe John slegs vier jaar oud was, waarna sy Afrikaanse ma met haar vyf kin­ders na Caledon teruggekeer het.

Roome is as onderwyser by die NG Kerk* se Normaalskool in Kaapstad opgelei en hy hou daarna in Somerset-Oos skool totdat hy op Stellenbosch in die teologie* gaan studeer. Hy word in 1892 gelegitimeer* en die volgende jaar op Villiersdorp bevestig. Twee jaar later word hy predikant* van Kaapstad (Groote Kerk) waar hy tot met sy aftrede in 1937 werksaam was – agtereenvolgens in die wyke van Maitland en See­punt.

Roome het in verskeie organisasies ge­dien, insluitende as voorsitter van die Bybel­genootskap* en die bestuur van die Help­me­­kaar-vereniging, ook as bestuurslid van die Volkshospitaal, die Christelike Strewers­vereniging en die Raad van Kerke. Tydens die hewige kerkstryd teen prof Johannes du Plessis* van die Stellenbosse Kweekskool se teologiese sienings (1926–1932), het Roome hom aan die kant van Du Plessis geskaar.

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar