NAUDÉ, CHRISTIAAN FREDERIK BEYERS (BEYERS)

NAUDÉ, CHRISTIAAN FREDERIK BEYERS (BEYERS) (1915–2003) is uit stoe­re Afrikaner*ouers gebore – vandaar ook sy vernoeming na ’n Boere-generaal. Ná sy studie aan die Teologiese Kweekskool* (Stellenbosch), het Naudé twintig jaar lank in die bediening van die NG Kerk* gestaan. Ten spyte van sy relatiewe jeugdigheid, het hy vroeg reeds talle leiersposisies beklee, onder andere as moderatuurslid – en later ook moderator* – van verskeie sinodes*. Die Cottesloe-beraad*, wat in 1960 deur die Wêreldraad van Kerke* byeengeroep is om die Sharpeville-menseslagting te bespreek, het vir Naudé ’n “Damaskuspad-ervaring” mee­gebring. Apartheid was verkeerd, het hy besef, en hy kon nie langer stilbly nie. Van hom en sy gesin het dit ’n hoë prys gevra – veral toe hy in 1962 sy predikants­amp neer­gelê het om direkteur van die Christelike Instituut* en redakteur van die instituut se lyfblad, Pro Veritate, te word. In 1977 het die BJ Vorster*-regering hom vanweë sy aktiewe teenstand teen die apartheids­beleid en sy skakeling met wat beskou is as rewolusionêre magte, sewe jaar lank onder huisarres geplaas. Ná sy vrylating in 1984 het hy Desmond Tutu* as algemene sekretaris van die SA Raad van Kerke (SARK)* opgevolg. Die SARK was gedurende die 1980’s feitlik die enigste effektiewe kanaal waardeur geld uit die buiteland na apart­heidslagoffers gekanaliseer is, wat meegebring het dat Naudé hom dikwels in moeilike en soms gevaarlike situasies bevind het. Kritiek is teen hom uitgespreek dat hy die struggle as “gewapende stryd” gesteun het en geweld as middel tot die doel aanvaar het, en dat hy nie sterk standpunt ingeneem het teen die kommunisme* – veral ook soos dit in die Sowjet-Unie uitdrukking gevind het – nie. Alhoewel hy nie ’n lid van die ANC was nie, het dié organisasie hom in die vroeë 1990’s genooi om lid van hulle afvaardiging te wees wat die eerste hoëvlak-samespre­kings met die FW de Klerk*-regering by Groote Schuur in Kaapstad gevoer het.

In 1994 het die Algemene Sinode van die NG Kerk Beyers Naudé as een van die “profete van die verlede” om verskoning gevra dat nie ag geslaan is op sy waarskuwings oor die Skriftuurlike begronding en praktiese toepassing van apartheid nie, en hom in die kring van dié kerk terugverwelkom.

Talle eredoktorsgrade (waaronder een van sy alma mater, die Universiteit van Stellenbosch) asook die Franklin D Roose­veldt-Vredesprys, die Robert Kennedy-Men­se­regteprys en die Orde van Oranje-Nassau is aan hom toegeken. Die Beyers Naudé-Sentrum vir Publieke Teologie aan die Kweekskool op Stellenbosch is na hom vernoem.

Vir verdere lees: Beyers Naudé 1997. My land van hoop: Die lewe van Beyers Naudé. Kaapstad: Human en Rousseau.

VRAAGGESPREK MET BEYERS NAUDÉ

Frits Gaum het in Oktober 2001 vir Kerkbode ‘n onderhoud met CF Beyers Naudé gevoer.

Vroeg in 2001 het die koerante gerapporteer dat dr CF Beyers Naudé so te sê op sy sterfbed lê. Maande lank was hy op die drumpel van die dood. Maar mettertyd het dit beter gegaan en toe ek in Oktober gevra het of ek hom in ‘n versorgingsoord in Johannesburg kon besoek, is laat weet dat ek gerus kon kom. Dr Naudé sou baie graag met my ‘n onderhoud wil hê. In sy kamer het ek hom aangetref met kussings gemaklik gemaak in ‘n russtoel, en gretig om te gesels. Sy vrou, Ilse, was vriendelik in die nabyheid. Dit was nie moeilik om ‘n aanknopingspunt te kry nie.

“Verlede week is die DF Malan-rylaan hier in Johannesburg herdoop na die Beyers Naudé-rylaan. Hoe voel u daaroor dat u naam op dié wyse verewig is?”

“Ek het dit nooit verwag nie,” antwoord hy heserig. “Maar toe so besluit is, het ek die beslissing met dankbaarheid aanvaar. Ek hoop dit sal tog nog altyd reg laat geskied aan wat mense soos onder andere dr DF Malan vir die land en volk bereik het.”

FG: As u terugkyk op u lewe – waaroor is u die dankbaarste?

BN: Ek is die dankbaarste dat die Here my van die dag van my bekering af gelei het op ‘n pad van soeke na geregtigheid, waarheid en liefde. Ek is dankbaar oor die bydrae wat my vader in my lewe gemaak het. Ek is dankbaar oor die veranderinge in Suid-Afrika – dit was voorheen nie ‘n land waar geregtigheid teenoor alle groepe geskied het nie. Ek is bekommerd daaroor dat die groeiende gaping tussen ryk en arm in ons land meebring dat daar nie oral geregtigheid is nie. Dis ‘n gaping tussen wit en swart en swart en swart en bruin en swart en bruin en wit. As daardie gaping nie oorbrug word nie, sal ons nie werklik vrede in ons land hê nie.

FG: Waaroor is u in u lewe die jammerste?

BN: Ek is die jammerste dat ek nie vroeër in my lewe goed genoeg verstaan het wat geregtigheid regtig is nie en in my jong dae te min gedoen het om te help dat geregtigheid kan seëvier.

FG: Wat is u gevoel nou teenoor die NG Kerk?

BN: Ek is al jare lank nie meer ‘n lidmaat van die NG Kerk nie. Ek behoort aan die Verenigende Geref Kerk. Ilse behoort nog altyd aan die NG Kerk – deesdae aan die gemeente Aasvoëlkop waarvan ek vroeër predikant was. Toe ek nog kon, het ek meermale saam met haar na Aasvoëlkop se dienste gegaan. Alexandra is vir my net te ver. Ja kyk, die NG Kerk het ‘n baie groot geleentheid om sy lidmate in ‘n rigting te stuur, hulle so te beïnvloed dat hulle die groot probleme van die land raaksien en help om iets daaraan te doen. Vigs, armoede … dis van ons grootste sorge. En as die NG Kerk regtig ernstige aandag daaraan begin gee, kan dit ‘n verskil maak. Die NG Kerk se leiers moet met die regering gaan praat – hulle moet dit gereeld doen – en hulle invloed laat geld en hulle bekommernisse uitspreek.

FG: U is nie verbitterd teenoor die NG Kerk oor al die dinge wat in die jare wat verby is, gebeur het nie? U was eens die moderator van die Suid-Transvaalse Sinode, maar is later oor u standpunte in verband met apartheid deur die kerk verstoot … ook in die jare toe u in huis-aanhouding was …

BN: Deur die genade van die Here is ek nie verbitterd nie. Sover ek my hart ken, is daar nie ‘n saadjie van verbittering nie. Ja, ek het sleg gevoel toe daar verwydering gekom het, maar ek het dit ‘n saak van gebed gemaak. En vir Ilse het ek gesê: “Kleinding, as jy sien dat daar verbittering by my is, sê dit vir my. Sê vir my as verbittering by my posvat, want dit mag nie wees nie.”

(Mev Naudé voeg van die kant af by: “Dit is so, ja. Ek was altyd verbaas dat hy nie met woede of selfbejammering gereageer het op wat gebeur het nie. Hy het my ook gehelp om nie bitter te word nie.”)

FG: Hoe voel u oor die NG Kerk se belydenis in verband met apartheid?

BN: Die NG Kerk het duidelik genoeg gesê dat hy jammer is oor sy regverdiging van apartheid in die verlede. Maar ek meen dat daar nog lidmate is wat nie besef dat dit verkeerd was en dat baie mense as gevolg van apartheid gely het nie. Dalk moet die kerk lidmate in kleingroepe begelei en hulle help om óór die brug te kom en die nuwe omstandighede te aanvaar. Suspisie dat die regering dit sleg bedoel, moet uit die weg geruim word. Ons moet saamwerk vir ‘n beter land. Die NG Kerk kan daarmee help.

FG: Hoe sien u die toekoms van die NG Kerk?

BN: Die Here het die kerk nog altyd op ‘n wonderlike manier gebruik. Juis in tye van wanhoop en onsekerheid. Die kerk het gebreke – ook die NG Kerk – en nét die NG Kerk kan die taak wat die Here vir hom gegee het, uitvoer. Die leiers, die lidmate … almal. Ook Kerkbode! Kerkbode het ‘n belangrike bydrae om te lewer.

FG: Lees u Kerkbode gereeld?

BN: Van a tot z! Ek is ‘n baie getroue leser van Kerkbode.

FG: Is die Afrikaners se wiele pap?

BN: Die Afrikaners moet hulle losmaak van die gevoel dat hulle wiele pap is. Die Afrikaners moet die Nuwe Suid-Afrika aanvaar mét sy goeie en slegte kante. Die Afrikaners het in die verlede ‘n groot rol in die land gespeel, maar hulle rol is nie nou uitgespeel nie. Glad nie. Hulle moet strewe na waarheid en geregtigheid en liefde, dan sal dit goed gaan. En hulle moet met die regering gaan praat oor die dinge wat pla – selfs al wil die regering nie luister nie, daar moet met hulle gepraat word.

FG: Wat is u boodskap vir die jongmense van Suid-Afrika?

BN: Ons het ‘n wonderlike land. ‘n Land met ongelooflike moontlikhede. Ons het ‘n rykdom aan tale, kulture, agtergronde. In hierdie land moet ons mekaar vind, mekaar se hande vat, aan ons gesamentlike toekoms bou. Jongmense, wil ek sê, moenie moed verloor nie. Dáár waar die Here lei, wys Hy altyd ‘n pad aan. Hy sal dit ook vir julle môre doen.

(Kerkbode, 19 Oktober 2001)

 

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar