Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Skuif die kieslys heen en weer

MOFFAT, ROBERT

Skrywer: WJ Botha3

MOFFAT, ROBERT (1795–1883) is in Ormiston, Skotland, gebore en het as tui­nier by ’n skool begin werk. Die preke van die plaaslike leraar en sy ma se voorbeeld en gebede het ’n groot invloed op hom gehad. Eendag het vriende hom uitgenooi om van die Wesleyaanse Metodiste* se dienste in Leigh High by te woon, waar hy tot bekering* gekom het. Terwyl hy op ’n dag op ’n buurdorp was, sien hy ’n plakkaat van ’n praatjie wat ds William Roby van Man­chester oor sending*werk sou hou, en hy het teruggedink aan die talle verhale wat sy ma oor die Morawiese* sendelinge vertel het. Hy sluit in 1816 by die Londense Sending­genootskap* (LMS) aan wat hom na Suid-Afrika stuur.  Sy eerste jaar bring hy in Na­ma­kwaland deur waar hy onder meer hoof­man Afrikaner tot bekering gelei het. Hy gaan in 1819 terug Kaapstad toe en trou met Mary Smith (Kyk by: Moffat, Mary).

In 1820 vertrek hulle na Griekwastad en woon uiteindelik op Kuruman en werk vir die volgende 50 jaar onder die Betsjoeana. Reeds in sy eerste jaar het Moffat die Setswana-taal onder die knie gekry en ’n grammatika­boek vir dié taal geskryf. Daarna het hy begin om die Lukas*-Evangelie te vertaal. Die werk het gou vrugte gedra en weldra was die eredienste baie goed bygewoon. Moffat het ook met ’n skool begin. Terwyl hy op langverlof in Engeland was (1839– 1843) het hy die vertaling van die Nuwe Testament* en die Psalms* voltooi. Hy het ook ’n preekbundel in Setswana geskryf. In hierdie tyd ontmoet hy vir David Living­stone* en nooi hom uit om aan sy werk in Suid-Afrika deel te neem. Livingstone het in 1844 met Moffat se oudste dogter, ook Mary, getrou.

Moffat het die volledige Bybel* man-alleen teen 1857 vertaal gehad, en daarna ook begin om die Pelgrim se reis (Kyk by: Bunyan, John) en ’n gesangeboek te vertaal. In André P Brink* se bekende Bidsprinkaan kom Moffat en die LMS se sendingwerk ook onder die loep en in ’n enigsins negatiewe lig gestel.

Print Friendly, PDF & Email
Deel hierdie blad:
Opgedateer: 22 Mar, 2016

0 Comments

Submit a Comment

Om kommentaar te lewer op lemmas, foute uit te wys, voorstelle vir nuwe lemmas te maak of byvoegings aan die hand te doen, voltooi asb die onderstaande vorm en e-pos dit aan: Die Hoofredakteur: eCKE by [email protected]

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui