MEIRING2, PIETER GERHARD JA­CO­BUS (PIET)

MEIRING2, PIETER GERHARD JA­CO­BUS (PIET) (1941–) word predikant in die NG Kerk*, soos sy pa Arnold* en sy oupa Pieter*, en sy seun Arno. Ná sy voorstudie in Pretoria behaal hy sy Drs Teol aan die Vrije Universiteit*, Amsterdam, en sy DD in 1967 aan die Universiteit van Preto­ria. Hy gebruik sy gawes op vele terreine. So bedien hy die gemeentes Riviera en Lynn­woodrif en doseer sendingwetenskap* aan die Stofberg-Teologiese Skool op Turf­loop en van 1989 tot 2007 aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Hy word verkies tot moderator* van die Sinode* van Oos-Transvaal, word voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie vir Getuie­nis, direkteur van ekumene*, en leier van die Sendingjaar (1988) en die Jaar van Hoop (2001). Deur sy talle boeke en geskrifte en entoesiastiese optredes slaag hy daarin om leraars en lidmate vir hulle missionêre roeping te motiveer. Meiring het nooit ge­skroom om teen die onreg van apartheid* te getuig nie. Hy dien dan ook, op versoek van die voorsitter, Desmond Tutu*, in die Waarheid-en-Versoenings­kom­missie*. Hy is, nadat dié kommissie sy werk voltooi het, meermale na die buiteland genooi om leiding te gee oor versoening tussen mense. Meiring is die hoofmedewer­ker: godsdiens- en sen­dingwetenskap van die elektroniese Christelike Kernen­si­­klo­pedie (eCKE).

Vir verdere lees: PGJ Meiring 1999. Chro­nical of the Truth and Reconciliation Com­mission. Vanderbijlpark: Carpe Diem. F Swanepoel


Vraaggesprek met Piet Meiring

Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid is in 2020 deur die Andrew Murray-prysfonds aan Piet Meiring toegeken. Frits Gaum het met hom gepraat.

1. Jy ontvang vanjaar die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid – ‘n nuwe toekenning van die Andrew Murray-prysfonds wat aansluit by die groot temas van die Belydenis van Belhar. Jou reaksie?

Frits, ek kon my oë nie glo toe ek jou brief met die wonderlike nuus oor die toekening gekry het nie. My skoonseun het my dadelik aarde toe gebring met die bedagsame opmerking: “Kyk na die datum op die brief. Dis die 1ste April”. Maar toe ek eers besef dat dit regtig so is, was daar ‘n yslike knop in my keel. Ek het so’n groot bewondering vir Jaap Durand en vir Denise Ackerman, en dat die toekenning wat in hulle naam gemaak is, na my toe kom, is iets heel spesiaals. My tweede reaksie was: waarom ek? Soveel mense in ons land en in ons kerk het so hard gewerk vir versoening en geregtigheid, en baie van hulle kon eerder die toekenning ontvang het. Maar vir wat met my gebeur het, het ek net een groot DANKIE.

2. Jy het, soos jou pa en oupa, die afgelope dekades ‘n belangrike rol in die wel en wee van die NG Kerk gespeel. As jy so terugkyk: Waaroor is jy die dankbaarste?

Dit is ‘n groot voorreg om dominee in die N G kerk te wees. Die kerk bly maar ons moeder! Dit was ‘n avontuur om die kerk se lang reis om van apartheid afskeid te neem, mee te maak. Daar was tye dat ek half stroomop geswem het, teen die gangbare denke van die tyd. Maar die kerk het my op een of ander manier tog verduur. Daarvoor moet ek onder andere ook vir jou persoonlik dankie sê, dat jy as kerkleier vir my ruimte gemaak het.

Waaroor ek die dankbaarste is? Seer seker dat die N G Kerk in 1994 met oortuiging afskeid van apartheid kon neem, dat die teologisering daarvan sonde en ‘n kettery was. Die Sinode van Versoening (soos jy dit dikwels beskryf het) was ‘n waterskeiding en ‘n hoogetpunt! Om te dink dat die sinode ook sover gegaan het om die profete in hul eie midde wat al die jare teen apartheid gewaarsku het – Oom Bey Naude, Oom Ben Marais en al die ander – in ere te herstel, was iets wat mens nooit sal vergeet nie.

3. En die jammerste?

Dat die proses van kerkhereninging in die N G Kerkfamilie so stadig verloop. In 1994 en die jare daarna het dit gelyk asof ons amper dáár was, dat die fatale breuk van 1857 geheel gaan word. Maar ons is nou nog nie daar nie. Net so’n groot teleurstelling is dat die N G Kerk, in al sy sinodes en gemeentes, nog nie die Belydenis van Belhar met groot oortuiging aanvaar het nie.

4. Jy was in ‘n stadium, saam met jou professoraatskap by UP, die ekumeniese amptenaar van die Algemene Sinode. Dit was juis in die tyd toe die NG Kerk vanweë apartheid kerklik geïsoleer was. Tog het jy daarin geslaag om brûe na ander kerke te bou. Hoe het jy dit reg gekry?

Dit was ‘n interessante tyd. Ek het deur die jare goeie verhoudings met predikante en dosente van ander kerke opgebou. Ons was dikwels saam by allerlei aksies betrokke, wat gemaak het dat toe ek in die Ekumeniese Kantoor beland het, baie deure vir my oop was. Wat my dikwels opgeval het was watter welwillendheid daar teenoor ons kerk was, ook in die moeilike jare toe die teenkanting teen apartheid al feller geword het. Die ander kerke wou graag gehad het dat die N G Kerk sy standpunt moes verander en deel moes word van die ekumeniese familie in ons land – en ook in die buiteland. Een van die beste voorbeelde was Aartsbiskop Tutu, wat apartheid genadeloos gekritiseer het – maar nooit moed opgegee het vir die N G Kerk nie. Dat die N G Kerk ‘n paar jaar gelede ‘n spesiale oorkonde aan hom oorhandig het, het vir die “Arch” baie beteken. Hy het vir my gesê; “Jy moet kom kyk. In my huis hang die Nobel Vredesprys se oorkonde langs dié van die N G Kerk”.

5. Jy was, deur die toedoen van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, die enigste predikant van die Afrikaanse gereformeerde kerke wat lid van die destydse Waarheids-en-Versoeningskommissie was. Jy het ook ‘n boek oor jou destydse belewenisse geskryf. In watter mate het dié kommissie na jou mening daarin geslaag om versoening in ons land te bevorder?

As ‘n mens ná ‘n kwarteeu terugkyk, dink ek die WVK behoort so’n 75% op sy rapport te kry. Ons land het beslis gebaat by die werk van die kommissie. In die vroeë jare van die Nuwe Suid-Afrika het dit ‘n klimaat van vergifnis en versoening geskep. Die baie openbare verhore het gehelp om die waarheid na vore te bring en om slagoffers te laat ervaar dat hulle nie vergeet word nie. Daar het ook daadwerklike versoening plaasgevind, soms op die mees verrassende tye en plekke. Een van die hoogepunte was die geleentheid wat vir leiers van die verskillende geloofsgemeenskappe geskep is om te getuig, waar jou en my studiemaat Freek Swanepoel so ‘n mooi rol gespeel het.

6. Deesdae word soms baie krities na die werk van die WVK gekyk. Dink jy van die kritiek is geregverdig?

Baie van die kritiek is geregverdig. Veral die feit dat geregtigheid en restitusie hoofsaaklik op indiwidue gemik was en nie op slagoffergemeenskappe nie, was jammer. Verder ook dat die regering onder President Mbeki hulle voete gesleep het om vergoeding aan slagoffers uit te betaal. Die groot verwagting wat Tutu en sy kollegas gekoester het, dat die proses van versoening sou voortgaan, dat die kerke en al die ander groepe in die land die proses sou voortsit, het ook nie oral gerealiseer nie. Ons is nog steeds ‘n stukkende land. Die reënboognasie se kleure het dof begin word.

7. Die “Jaar van Hoop” van 2001 was ook jou breinkind. Waarom was so ‘n “jaar” destyds nodig … en is so iets nie juis nou nodiger as ooit nie?

Aan die begin van die tweede millennium was daar baie vrae en onsekerheid onder ons mense. Die euforie oor die nuwe Suid-Afrika was aan die taan en mense was bekommerd oor baie dinge: oor die politiek en die ekonomie, oor die toekoms van lidmate van die N G Kerk. In elke gemeente is gepraat en gebid oor ons hoop, oor die vaste wete dat ons veilig in God se hand is, dat Hy oor ons toekoms besluit – nie politici en ekonome of wie ookal nie. Of ons dit nou weer nodig het? Beslis! Nie net ‘n jaar van hoop nie, maar ‘n hele seisoen van hoop! Ek dink dat een van die goeie dinge wat met ons in die Corona-tyd gebeur het juis dit is dat ons opnuut leer om net op God alleen te vertrou. Ons lewens is in sy hand! Dit is die unieke gawe van die kerk aan die gemeenskap: om hoop te bring.

8. Jy het jou op baie manière beywer vir groter eenheid in die NG Kerkfamilie. Dink jy kerkvereniging gaan nog in ons leeftyd gebeur?

Ek bid nog elke week gereeld daarvoor. Soos ek netnou gesê het, is dit ‘n teleurstelling dat die N G Kerkfamilie nog nie een is nie. Die lakmoestoets of die N G Kerk regtig van apartheid en rassisme ontslae geraak het, het President Mandela in 1994 gesê, is of die N G Kerkfamilie gaan herenig. Ek hoop en bid dat dit nog in jou en my leeftyd sal gebeur. Intussen is ek die Here baie dankbaar vir wat op plaaslike vlak gebeur, dat sinodes en gemeentes wel besig is om op die pad te stap.

9. Jy is ‘n liefhebber en kenner van klassieke musiek. Ek moet jou om verskoning vra dat ek en Fanie de Jager in ons studentedae in Sonop-koshuis die Beethoven-beeld in jou kamer goudgeel geverf het … Dit was nie mooi van ons nie, jammer, Piet! Het Beethoven en sy musiek nog ‘n spesiale plek in jou lewe en watter ander komponiste ding in jou boekie met hom mee?

Dieselfde Beethoven-beeld staan nog altyd op ‘n ereplek in ons huis. Ek het dit ‘n rukkie gelede laat opknap. Kan jy glo? In die voue van die komponis se serp was nog steeds stukkies verf wat die uwe Frits Gaum sestig jaar gelede aangebring het! Watter ander komponiste? Daar is baie: Bach, Mozart, Brahms, al die ander wat my lewe elke dag verryk. In my boekie is Karl Jenkins, die moderne komponis, een van die grotes.

10. Jy het in jou studentedae stories vir “Huisgenoot” geskryf en daarna ‘n hele paar teologiese en algemeen-Christelike boeke. Watter een is vir jou die belangrikste … en is jy nou besig met ‘n nuwe een, Piet?

Van die boeke wat ek geskryf het, het twee vir my spesiale betekenis. Die eerste is Stemme uit die Swart Kerk (1975) waarin ek ‘n groep swart kerkleiers aan Afrikaanse lesers bekendgestel het. Die tweede is my Kroniek van die Waarheidskommissie (1999) wat in Engels vertaal, en ook in die VSA uitgegee is. Ek het die afgelope tyd aan ‘n Bybeldagboek gewerk wat op die oomblik by die uitgewer is. Wanneer dit gaan verskyn, hang van die Corona-virus wat ook die uitgewersbesigheid lamlê, af.

Maar van skrywery gepraat: jy het ‘n groot aandeel in my pogings om iets op skrif te kry gehad, destyds in jou Bybelkor-jare en toe jy later redakteur van Die Kerkbode was. Ek skuld jou ‘n baie groot dankie. Ten spyte van Beethoven-eskapade was en is jy al die jare ‘n goeie vriend.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar