MANDELA, NELSON ROLIHLALE

MANDELA, NELSON ROLIHLALE (1918–2013) is as seun van ’n Tembu-kaptein gebore. Hy het sy regsopleiding aan die Universiteit van die Witwatersrand ontvang en praktiseer vanaf 1952 as prokureur in Johannesburg. Hy word reeds in 1944 lid van die African National Congress (ANC) en was van 1951 af president van die ANC-jeugliga. Mandela het hierbenewens ’n leiersrol in die lydelike versetveldtog van 1951 en 1952 teen apartheid* gespeel waarvoor hy ’n vonnis van nege maande tronkstraf moes uitdien. In 1956 is hy saam met Albert Lutuli* en ander ANC-leiers van hoogverraad aange­kla, maar die saak is later laat vaar. Ty­dens die Sharpeville-onluste van Maart 1960 is Mandela en ander leiers weer gearresteer, waarna die All African National Action Council ’n nuwe strategie van verset ingelei het met Mandela as sekretaris. Hy word een van die stigters en daarna hoof van die mi­litêre vleuel van die militante beweging Umkhonto we Sizwe (“Spies van die Nasie”) wat sabotasiedade beplan het. In Augustus 1962 het die polisie tydens ’n strooptog op ’n huis in Rivonia op bewysmateriaal oor die beplande sabotasie beslag gelê. In die bekende Rivonia-verhoor het hy met sy verklaring oor die regverdig­heid van die verset, sy oortuigings ver­woord en verantwoord. Hy het daarna tronk­straf van 27 jaar op Robbeneiland*, in Polls­moor en by die destydse Victor Verster-gevangenis uitgedien, waartydens hy sy LLB-graad per korrespondensie by Unisa behaal het. Tydens dié gevange­skap is sy beeld as vryheidsvegter internasionaal gebou.

Mandela se vrylating en die ontbanning van verbode politieke organisasies deur pres FW de Klerk* in Februarie 1990, het die weg gebaan vir betekenisvolle onderhandelings om ’n politieke skikking te bereik. Sy mitiese beeld en sy waardige en versoenende benadering tydens die onderhande­lingsproses, het hom hierná in ’n byna on­aan­tasbare posisie geplaas. Met sy verkie­sing tot eerste swart president van ’n demo­kra­tiese Suid-Afrika in 1994 het hy die revolusionêre retoriek van die ANC bewustelik afgekoel en daarna gestrewe om alle groe­pe­rings by die demokratiese stelsel te be­trek. Mandela en De Klerk het gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang. Mandela het in 1999 ná net een termyn uitgetree as president – iets unieks vir ’n Afrika-president – maar daarna, totdat ouderdom en siekte hom gekniehalter het, voortgegaan om ’n rol in maat­skaplike kwessies soos vigs, armoedebestryding en opheffing te speel.

In godsdienstige konteks het Mandela in die openbare lewe neutraal gebly. In ’n on­der­houd met Kerkbode* het hy op ’n vraag oor sy persoonlike belewing van geloof*, geantwoord: “Die verhouding tussen ’n mens en sy God is baie persoonlik. Maar dit kan ek sê: godsdiens en geloof is in die wêreld van vandag nog altyd van die grootste belang. Die kerk het in my lewe ’n groot rol gespeel. Die Metodistekerk* het aan my my basiese opvoeding gegee. Ek is ook in daardie kerk gedoop. Toe die regering nie gesorg het nie, het die kerke deur kerkskole ingegryp en groot en blywende werk gedoen. Dit sal ek altyd onthou. En Jesus Christus … ja, geloof in Jesus word deur ons almal aanvaar” (Kerkbode, 18 Oktober 2002). Mandela was die eerste en tot dusver enigste staats- en regeringshoof wat ’n algemene sinode van die NG Kerk* toegespreek het. Hy het by die sinode van 1994 onder meer erkenning aan dié kerk gegee vir sy rol in die vreedsame oorgang na ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika. Nelson Mandela is op 5 Desember 2013 op 95-jarige ouderdom in Johannesburg oorlede en met wêreldwye eerbetoon op 15 Desember in sy tuisdorp, Qunu, begrawe.

 

VRAAGGESPREK MET NELSON MANDELA

 

Frits Gaum en Freek Swanepoel het in Oktober 2002 ‘n onderhoud met Nelson Mandela vir Kerkbode gevoer.  Meteens staan hy in die deur: die gryskop met die bekende breë glimlag. “Kom binne, kom binne,” nooi oud-pres Nelson Mandela.

Ons volg hom die groot vertrek in sy Johannesburgse huis in. Hy gaan sit agter sy lessenaar en glimlag weer. Ons kan maar ons vrae stel.

 

FG: Vir u ouderdom en “lang pad na Vryheid” is u nog ‘n baie bedrywige persoon, mnr Mandela. U speel ‘n belangrike rol in Suid-Afrika en ook op die internasionale verhoog. Is u gesondheid nog goed?

NM: ‘n Prinses van die Zulus het my sewe jaar gelede besoek en by haar vertrek gesê sy hoop ek sal nog tien jaar lewe. So ek het nog twee, drie jaar oor! Dit gaan goed met my, dankie.

 

FS: Wat is die sake in die land wat u die meeste bekommer?

NM: Die hoë voedselpryse pla my baie. Daar is miljoene arm mense in Suid-Afrika wat dit nie kan bekostig nie. Dit bekommer my. Ook die siektes wat ons mense teister. HIV/vigs is nommer een. Maar ook kanker en tuberkulose en malaria. Die voorkoms van tuberkulose is in Suid-Afrika die negende hoogste in die wêreld! En dan is daar te veel kinders wat nog nie kan skool toe gaan nie. Ons moet in die rigting beweeg van gratis onderwys in Suid-Afrika. Die regering doen hulle bes, maar daar moet nog meer gedoen word. Nog dinge wat hinder, is korrupsie en misdaad. Die vlak van misdaad is te hoog. En die nood vir huise is nog baie groot. Die grondkwessie sal ook hanteer moet word as ons in vrede wil lewe.

 

FG: Mnr Mandela …

NM: Noem my Madiba, asseblief.

 

FG: Madiba, daar word allerlei pogings deur die kerk aangewend om te help met die bekamping van die vigs-pandemie. Die Anglikaanse Kerk doen heelwat in dié verband, ook die NG Kerk. Die gemeente Skuilkrans-Pretoria is byvoorbeeld betrokke by so ‘n projek, en by die Hugenote Kollege op Wellington is daar ‘n vigs-navorsingsentrum …

NM: Ek weet van die kerke se werk. En dit is van die grootste belang. Ek is ook bly dat die Afrikaanse kerke hulle verantwoordelikheid in verband met HIV/vigs probeer nakom. HIV/vigs tel onder die grootste verskrikkings van ons tyd. Nie een van ons kan eenkant toe staan en dink dit raak ons nie. Dit het met ons almal te doen. Ook met die Afrikaners! En dit is reg dat juis die kerk in hierdie verband sy rol speel.

 

FG: Stem u saam met die voorstelle dat daar ‘n perk moet wees vir die tyd dat regstellende aksie in Suid-Afrika toegepas moet word? En as u saamstem, het u dalk ‘n datum in gedagte?

NM: As mense oor regstellende aksie praat, dink hulle aan poste wat deur swartmense gevul word. Maar regstellende aksie gaan oor baie meer. Dit gaan oor ‘n doelbewuste poging om die verskillende groepe in ons samelewing op dieselfde vlak te bring. En daarvoor kan ‘n mens nie ‘n datum gee nie. Ons moet met dié poging volhou, al duur dit ‘n dekade of twee. Daar moet geleenthede vir álmal geskep word. En in die proses moet die Afrikaners ook gewen word. Juis die Afrikaners, want hulle is nader aan ons mense as party ander groepe. Hulle het mos ter wille van hulle vryheid teen die Britse imperialisme opgestaan!

 

FS: In 1994 het u die Algemene Sinode van die NG Kerk besoek en ‘n toespraak gelewer …

NM: Ja, as ek reg onthou was dit die keer toe ek met die weggaanslag ‘n skoen verloor het! Die mense het om my saamgedrom … Ja, dit was ook die eerste keer dat Afrikanervroue my op die wang gesoen het.

 

FS: U is die enigste en tot dusver enigste president van die Republiek van Suid-Afrika wat in sy dienstyd ‘n Algemene Sinode van die NG Kerk besoek en toegespreek het. In Oktober 1994 – kort ná u diensaanvaarding in April daardie jaar – het u in Afrikaans vir die Algemene Sinode gesê: “Met die NG Kerk se erkenning dat apartheid verkeerd was, rus daar nou ‘n besondere profetiese taak op die NG Kerk se skouers. Met die hand wat u in eie boesem gesteek het, moet u nou hande vat saam met ons almal om te verseker dat die Heropbou-en-ontwikkelingsplan slaag.” Wat is u indruk: hét die NG Kerk toe hande gevat?

NM: Die NG Kerk het die vermoë om swakkes te help. My indruk is dat die kerk daadwerklik probeer om hande te vat en ‘n bydrae te lewer tot die heropbou en ontwikkeling van ons land. Die NG Kerk het beweeg! Al waaroor ek jammer is, is dat die Afrikaners nog verdeel is in verskillende kerke. Drie of vier, hoeveel is daar? Ek is bereid om ‘n vergadering te reël sodat die leiers byeen kan kom en ons dié saak kan bespreek. Sê asseblief vir die leiers so … Die NG Kerk kan nog altyd ‘n unieke versoenende rol in Suid-Afrika speel. Julle geskiedenis, as kerk wie se lidmate die Britse juk wou afwerp, laat julle verstaan hoe ons mense gevoel het. Julle, wat met apartheid brûe afgebreek het, kan nou soos niemand anders nie, help om nuwe brûe van versoening te bou. In hierdie dinge kan ‘n mens die individu se rol in leierskap nooit onderskat nie. As individue oortuig raak van ‘n saak, kan hulle ‘n groot verskil maak. So ook met versoening.

 

FS: U praat oor leierskap …

NM: Ware leiers hoef nie gesien te word en Nobelpryse te ontvang nie. Walter Sisulu was op sy dag ‘n groot leier, een van die grootstes, maar hy was bereid om in nederigheid sy invloed te laat geld sonder om self op die voorgrond te tree. Hy het altyd ánder mense vorentoe gedruk, maar sy leiding en rigtinggewing was onmiskenbaar. Die grootste leiers het nie altyd die meeste toekennings of pryse op hulle naam nie. Maar dis húlle wat die gang van die geskiedenis bepaal. Dit gaan in egte leierskap om diens, nie om eiebelang nie.

 

FG: Wil u dalk iets sê oor u persoonlike belewing van u geloof as ‘n Christen?

NM: Die verhouding tussen ‘n mens en sy God is baie persoonlik. Maar dit kan ek sê: godsdiens en geloof is in die wêreld van vandag nog altyd van die grootste belang. Die groot mense in die geskiedenis het almal tot ‘n einde gekom: Alexander die Grote, Julius Caesar, Napoleon, Hitler … Maar die godsdiens het voortbestaan, of dit nou Boeddhisme of Hinduïsme of die Christelike geloof of Islam is. Waarom? Omdat hulle almal praat oor dinge wat vir alle tye geld. Liefde. Vrede. Stabiliteit. Die kerk het in my lewe ‘n groot rol gespeel. Die Metodiste Kerk het vir my my basiese opvoeding gegee. Toe die regering nie gesorg het nie, het kerke deur kerkskole ingegryp en groot en blywende werk gedoen. Dit sal ek altyd onthou.

 

FG: En Jesus Christus?

NM: Soos ek sê, ‘n mens se verhouding met God is baie persoonlik en privaat. Maar geloof in Jesus word deur ons almal aanvaar.

Madiba se sekretaresse klop aan die deur. Ons halfuur is verby – die volgende besoekers staan al en wag. Maar eers kan ‘n paar foto’s geneem word – op die stoep buitekant, nie binnekant nie, die skerp lig van die kamera is nie goed vir mnr Mandela se oë nie. Ons gaan na buite, gee aan die oud-president ‘n eksemplaar van “NG Kerk 350” en wys hom die foto waar hy langs moderator Freek Swanepoel staan by die 1994-sinode. Dit was tog ‘n merkwaardige dag daardie toe ‘n NG Kerksinode vir Nelson Mandela staande toegejuig het … Dit was versoening in dieselfde klas as dié van die eindwedstryd vir die Wêreldbeker die volgende jaar. Ons staan op die stoep en neem foto’s, en dan glimlag Madiba breed in die rigting van sy nuwe besoekers. Dis nou hulle beurt.

 

Kerkbode, 18 Oktober 2002

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar