JONKER, WILLEM DANIËL (WIL­LIE)

JONKER, WILLEM DANIËL (WIL­LIE) (1929–2006), studeer teologie* aan die Universiteit van Pretoria en promoveer in 1955 aan die Vrije Universiteit* van Am­sterdam onder GC Berkouwer*. Sy proefskrif, Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie, sou hom voorberei vir die latere kerkstryd in Suid-Afrika. Hy bedien enkele gemeentes voordat hy in 1968 professor in praktiese teologie in Kampen, Nederland, word waarna hy van 1971–1992 etiek en dogmatiek aan die Kweekskool op Stellenbosch doseer.

In die NG Kerk*-konteks speel Jonker ’n leidende rol. Hy skryf gereelde artikels in Die Kerkbode* en versorg “Geestelike waar­des” in Die Burger.

In kerklike verband staan twee gebeurte­nisse uit. Eerstens, sy publikasie van Die Sendingbepalinge van die Ned Geref Kerk van Transvaal waarin hy reeds in 1962 aandui dat aparte volkskerke vir verskillende rasse met dieselfde belydenis nie die weg van die Skrif* is nie. En tweedens sy dramatiese belydenis oor apartheid* namens die NG Kerk en die Afrikanervolk* tydens die kerkeberaad op Rustenburg (Kyk by:Rusten­burg-beraad) in November 1990 waaroor vele hom agterna sou verguis. Sy biogra­fiese boek, Selfs die kerk kan verander (1998), gee uitstekende insig in die kerk­stryd oor baie jare.

Op teologiese gebied kan sy bydrae op drie terreine onderskei word: 1. Hy handhaaf ’n behoudende gereformeerde* teologie en gaan – anders as sy tydgenote – krities in teen die neo-Calvinisme van Abra­ham Kuyper*. Sy Inleiding in die Teologie saam met Johan Heyns* en dogmatiekreeks saam met Jaap Durand* getuig van ’n indringende kennis van die tradisie en vermoë tot eie standpuntstelling. In later jare dui Jonker aan dat, waar ’n volksteologie vroeër die gereformeerde* karakter van die NG Kerk aangetas het, dit nou weer vanuit die pentekostalisme* kan gebeur. 2. Willie Jonker is by uitstek ’n ekklesioloog*. Sy stryd teen volkskerke* en ’n ideologiese (Kyk by: Ideologie) band tussen politiek en Christelike geloof*, word uit kerklike en nie eng politieke hoek nie, benader. Daarom steun hy die Belydenis van Belhar* terwyl hy hom van bevrydings­teologie* onderskei en homself teen hulle veronderstellings uitspreek. 3. Sy werk ge­tuig van ’n ekumeniese* en intellektuele openheid in ’n tyd van toenemende teologiese en kerklike isolasie. Sy begrip vir teenoorstaande standpunte, post-Vatikaan II-Katolieke teologie, en ondersteuning van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* – selfs ná die NG Kerk en die NH Kerk* se skorsing daaruit in 1982 – is getuienis hiervan.

Lied 290 in Liedboek van die kerk, “Dit is my troos dat ek gedoop is”, waarvan Jonker die digter is, is ’n goeie belydenis van sy eie kinderlike geloof en sekerheid.

Jonker is met eredoktorsgrade in die teo­lo­gie vereer deur die universiteite van Stel­lenbosch en die Vrystaat. Die Andrew Murrayprys* vir teologiese publikasies is twee keer aan hom toegeken: in 1991 vir Uit vrye guns alleen en in 1997 vir Bevry­dende waarheid.

PJ Naudé

VRAAGGESPREK MET WILLIE JONKER

Frits Gaum het in Junie 2001 vir Kerkbode ‘n onderhoud met Willie Jonker gevoer.

Prof Willie Jonker se naam was meteens internasionaal bekend toe hy in 1990 namens die NG Kerk en die Afrikaners, soos hy dit gestel het, by die Rustenburgse Kerkeberaad belydenis oor apartheid gedoen het. Selfs die New York Times het daaroor gerapporteer. Maar in gereformeerde kringe in Suid-Afrika en Nederland was hy toe al lankal ‘n gerespekteerde teoloog … hoewel daar oor ‘n tyd was dat hy vanweë sy sieninge oor die kerk en apartheid in die NG Kerk verguis is. Ek het ‘n ruk ná die verskyning van sy boek, “Selfs die kerk kan verander” (1998), op Stellenbosch met hom gaan gesels en wou weet of dit nie eintlik vanselfsprekend is dat die kerk – en veral dan ook die NG Kerk wat ‘n kerk van die Reformasie is – sal reformeer, verander, nie.

WJ: Deur die geskiedenis was die kerk een van die samelewingsinstellings wat die moeilikste verander het. Wat met die NG Kerk gebeur het – om oor apartheid, waaroor dié kerk haar eens op die Skrif beroep het, te kon erken: “Ons het ‘n fout gemaak” – dis in die geskiedenis van die kerk van alle tye iets besonders. My boek se titel is nie as verwyt bedoel nie, dis ‘n woord van dankbaarheid dat dit in die geval van die NG Kerk wél gebeur het.

FG: Het die kerk genóég verander?

WJ: In sommige opsigte, ja. Oor party van die veranderings is ek tog bekommerd. Die NG Kerk is ‘n gereformeerde kerk wat haar gereformeerde karakter volgens my oortuiging moet behou en uitbou. Daarom is die charismatisering wat al hoe meer in die NG Kerk ingang kry, ‘n probleem. Dis ‘n beweging weg van die gereformeerdheid wat nog altyd ‘n kenmerk van ons kerk was, en is vir my ‘n soort “verandering” waarsonder die NG Kerk kan klaarkom.

FG: Wat is “gereformeerdheid” na jou mening eintlik?

WJ: Dis ‘n inkeer tot die Woord van God en aanbidding in die lig van die Woord. Dis ‘n lees van die Woord met die insig van die Reformasie, ‘n tradisie van spiritualiteit wat uit die tyd van die Reformasie dateer. Die gereformeerdheid van die NG Kerk is tog wel anders as dié wat ‘n mens bv in Nederland kry. Dis omdat die vroomheid van die Skotse teologie in die 19de eeu by ons ‘n groot rol gespeel het toe die Skotse predikante hierheen gekom het, en daar ‘n saamgroei was van die gereformeerde belydenisteologie wat ons van Nederland geërf het, en die Skotse presbiteriaanse vroomheidsteologie.

FG: Is Jesus Christus die énigste weg en waarheid en lewe? Moet ons dit vandag nog so aanvaar?

WJ: Ja! Ons as gelowige Christene glo baie duidelik dat Christus die enigste weg na God toe is. Gee jy dié oortuiging prys, dan gee jy die hart van die Skrif prys.

FG: In 1990 het twee dinge gebeur wat koerantskrywers as waterskeidende gebeurtenisse beskou het. Aan die een kant was daar die toespraak van FW de Klerk op 2 Februarie wat die geskiedenis van ons land verander het. Aan die ander kant was daar jou toespraak in November tydens die Rustenburgse Kerkeberaad. Dit was ‘n gebeurtenis met historiese impak. Dis nou meer as ‘n dekade later. Dink jy nog jy het toe die regte ding op die regte plek gedoen?

WJ: Ja. Ek roem nie daarop nie, ek praat selde daaroor, maar ek is steeds vas oortuig dat ek die roeping gehad het om dit te moes doen. Ek kan nie soos Oom Doepie, ‘n vroeëre gemeentelid, om elke draai sê: “Só sê die Here nou vir my”, en dan met die grootste oortuiging só gaan maak nie. Maar ek glo dat ek daardie dag op Rustenburg die roeping gehad het om te doen wat ek gedoen het. Ek was ‘n genooide spreker en het die geleentheid gehad om ‘n belydenis te doen.

My goeie vriend, Dirk Hattingh [‘n vorige moderator van die Wes-Kaapse Sinode] het die oggend voordat hy by ons deelkamer uit is, vir my gesê: “Willie, ons sal nie daarvan kan wegkom om een of ander tyd ons skuld teenoor hierdie mense te bely nie.” En ek was intussen al van die vorige aand af op my eie aan die worstel oor hierdie saak! Toe hy dit vir my sê, het ek des te beter geweet wat ek moet doen. Die reaksie daarná van aartsbiskop Desmond Tutu, en dié van die amptelike afvaardiging van die NG Kerk, was ‘n verdere bevestiging daarvan. Ek is steeds dankbaar dat dit so gebeur het.

FG: Hoe voel jy oor die oorgang van die “ou” na die “nuwe” Suid-Afrika?

WJ: Daar is geen manier waarop ons dié oorgang nie sou moes gemaak het nie. Die teorie van afsonderlike ontwikkeling – vir elke volk ‘n eie land – kon natuurlik moreel geregverdig word. Maar in die praktyk kon dit nie billik uitgevoer word nie – die ineengestrengeldheid van ons samelewing het dit net nie moontlik gemaak nie. Die roereier kon eenvoudig nie ont-roer word nie! Die politici het dit uiteindelik ingesien en gedoen wat hulle moes. Die Afrikaanse kerke het nie daarin ‘n leidende rol gespeel nie, maar dit tog wel uit die Skrif probeer begelei.

FG: Reken jy dat die Afrikaners ‘n toekoms in Suid-Afrika het?

WJ: Ek is nie pessimisties nie. Ons het nie ‘n ander plek waarheen ons kan gaan nie. Dit klink dalk vroom, maar ek glo steeds dat God ons met ‘n doel hier geplaas het. Ja, ons ly aan die pyn van magsverlies. Vroeër het óns gesê dinge moet so en so wees, en dan wás dit so. Dit het nou baie verander. Maar ons moet dit deursien. Ons het hier ‘n plek en ons moet dit in die nuwe situasie reg leer beset.

FG: Wat wil jy oor kerkeenheid sê?

WJ: Dat die kerk oop moet wees, is duidelik – dis Bybels. Iedereen wat in Jesus Christus glo, moet lidmaat kan wees van die kerk … ook van die NG Kerk. Toe ek oor dit en verwante sake in die 1960’s in ‘n boek met die lesers-onvriendelike naam, “Die Sendingbepalinge van die Ned Gereformeerde Kerk van Transvaal”, geskryf het, het sommige mense gesê die aktuarius van die Transvaalse Kerk het nou liberaal geword. In werklikheid is ek my lewe lank ‘n konserwatiewe gereformeerde teoloog!

In die gereformeerde tradisie is nog altyd aanvaar dat taal, kultuur en geografiese afstand ‘n rol kan speel in die wyse waarop aan die kerk vorm gegee word. Dis nie ‘n dwingende eis dat mense met verskillende tale en kulture in een en dieselfde gemeente verenig moet word nie. Maar die gereformeerdes het tog daarop aangedring dat die eenheid van die kerk en die gemeenskap van die heiliges oor die grense van taal en kultuur heen beoefen moet word. Hulle het geglo dat die kerklike strukture daarvoor voorsiening moet maak. So bind die bekende Dordtse Kerkorde Nederlands- en Franssprekendes binne één sinodale verband saam. Strukture as sodanig kan nie die gemeenskap van die heiliges skep nie, maar hulle moet die kader skep waarin die gemeenskap van die heiliges kan gedy, sodat geestelike eenheid bevorder kan word.

FG: Wat sou jy beskou as die belangrikste drie prioriteite vir die NG Kerk in die volgende tien jaar?

WJ: Die belangrikste is dat die Skrifkarakter van die kerk bewaar en verdiep moet word. Ons mag nie toelaat dat ons gehegtheid aan die Bybel en ons aanvaarding van die betroubaarheid van God se Woord in die gedrang kom nie. Dan is ons getuienis in die wêreld van die grootste belang. Die kerk moet ‘n bydrae lewer dat lidmate hulle Christenskap in die praktyk kan uitleef sodat dit duidelik is dat Christene ánders is en ‘n ánder getuienis het as nie-Christene. En derdens moet die kerk help keer dat die Christelike waardes in ons samelewingsorde verlore gaan. Dis moeilik in die sekulêre land waarin ons leef, maar ons moet ons identiteit as Christene skaamteloos uitleef.

(Kerkbode, 15 Junie 2001)

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar