JEBUS

JEBUS is die naam van Jerusalem* in die tyd vóór Dawid*. Dit is geleë op die suidelike hang van die suidwestelike heuwel by die Hinnom* (Jos 15:8: 18:6). Dit word ver­bind met die dorsvloer van die Jebusiet, Arauna*, waar die latere tempelberg geleë was (2 Sam 24:16-18). Kanaänitiese inwoners, bekend as Jebusiete, het hierdie suidelike berghange bewoon voordat Dawid dit verower het (2 Sam 5:6-9; 1 Kron 11:4-8). Dit sou later die “Dawidstad” op die Ofel*-heu­wel word.

Ná die verowering van die stad deur Dawid het Jebusiete dit steeds bly bewoon as onderdane van die Israeliete* (1 Kon 9:20). Jebusiete het deel van Dawid se grootryk geword. Hofprofete soos Natan* en die priester Sadok* was moontlik Jebusiete. Ook die invloed van Jebusitiese gods­diens­instellings, ideologieë en tradisies moet nie onderskat word nie. Salomo se tempel*1 was nie ’n nuutgeboude tempel nie, maar waarskynlik ’n aangepaste heiligdom van ’n Jebusitiese tempel. Godsdiens-kultiese oorlewerings van Jebusitiese Jerusalem het die manier van godsaanbidding, soos dit in die Sionstradisie na vore kom, beslissend beïnvloed.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar