Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Skuif die kieslys heen en weer

INDEPENDENTISME

Skrywer: J Buitendag

INDEPENDENTISME is die benadering van ’n bepaalde kerklike groepering uit die puritanisme* wat teen die hoogkerklike Anglikanisme* in opstand gekom het ty­dens die bewind van onderskeidelik die seun en kleinseun van Mary Stuart, koning James I (1566–1625) en koning Charles I (1625–1649). Die sg “nonkonformiste” of “dissenters” het in 1640 sterk teen die koning se voorskriftelikheid van die Katolieke* kerklike tradisie stelling ingeneem wat even­tueel ook ’n breuk tussen die koning en die Britse parlement teweeg gebring het.

Die parlement het in 1643 die Westmi­n­ster Assembly byeen laat kom wat onder andere die Westminster Confession* (1646) die lig laat sien het. Dit het ’n Calvinistiese* gees geadem en het die potensiaal gehad om Engeland en Skotland op ’n presbite­riale* basis te verenig, soos die akkoord, “Solemn League and Covenant”, ook probeer doen het.

Onder diegene wat hulle nóg by die ko­ning nóg by die parlement geskaar het, het ’n radikale linkervleuel uit die puriteine* ontstaan wat as die Independente of ook Kongregasionaliste* bekend gestaan het. Hulle was indiwidualisties ingestel en het enige hiërargiese onderskeid tussen geestelikes en leke verwerp. Groot klem is veral ook op die onafhanklikheid van die plaas­like gemeente* geplaas.

John Cotton van Boston het in sy The true constitution of a particular visible church (1642) die teologiese onderbou vir die Independentistiese teologie* verskaf. Die “Apologetical Narration” wat by die Westminster Assembly gedien het, was grootliks hierop gebaseer. Die presbiteriaanse struktuur van streeksinodes, nasio­nale sinodes en ekumeniese sinodes (Kyk by: Sinode) is egter in die geheel verwerp. ’n Groot mate van toleransie teenoor ander kerke en groepe is ook aan die dag gelê, soos deur John Goodwin verwoord.

Oliver Cromwell* (1599–1658), wat streng puriteins opgevoed is en gelei was deur ’n visioenêre roepingsbesef, het hierdie ideale van die Independentiste deur ’n burgeroorlog gevestig. Hy het ook die koning laat onthoof en staatserkenning aan die Inde­pen­dentiste gegee.

Print Friendly, PDF & Email
Deel hierdie blad:
Opgedateer: 13 Mar, 2016

0 Comments

Submit a Comment

Om kommentaar te lewer op lemmas, foute uit te wys, voorstelle vir nuwe lemmas te maak of byvoegings aan die hand te doen, voltooi asb die onderstaande vorm en e-pos dit aan: Die Hoofredakteur: eCKE by [email protected]

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui