HEGESIPPUS

HEGESIPPUS (circa 110–180) kan as die eerste werklike kerkgeskiedkundige (Kyk by: Kerkgeskiedenis) uit die vroeë eeue van die Christendom* beskou word.

Om en by die middel van die tweede eeu, onderneem Hegesippus, ’n bekeerling uit die Jodendom (Kyk by: Jode), ’n reis vanuit sy ge­boor­teland Palestina*. Hy reis na Rome* en op pad besoek hy heelparty biskoppe*. Tot sy verwondering hoor hy dieselfde leer by almal van hulle. Hy bereik Rome toe Anice­tus die biskop, oftewel die pous*, van Rome was (iewers tussen 155 en 160 nC dus). Ook in Rome vind Hegesippus dat die leer van die apostels* suiwer oorgedra is.

In sy Memoirs, in vyf boeke, het hy die Gnostisisme* weerlê. Hierdie werk het slegs behoue gebly deur aanhalings in die Kerk­ge­skiedenis van Eusebius* van Sesarea. Hierdie werk lê klem op die vroeë geskiedenis van die kerk* in Jerusalem*. Hegesippus het skynbaar geglo dat ketterye* verkeerd bewys kan word deur die geskiedenis van die opeenvolging van biskoppe in behou­­den­de bisdomme, soos Jerusalem en Rome, oor te lewer as ’n bewys van orto­dok­sie*.

Hegesippus het blykbaar nog ’n ander werk geskryf – ’n lys van al die vroeë bis­koppe van die kerk in Rome, en dus van die eerste “pouse”. Hierdie lys is deur Epifanius oorgelewer.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar