HASIDIM

HASIDIM. Teen die tyd van die Makka­beer*-opstand (167 vC) het daar verskeie polities-religieuse groepe soos die Hasidim, die Sadduseërs*, die Fariseërs* en die Esseners (Kyk by: Dooie See-rolle) in Juda* bestaan. Die woord hÇs¥d in Hebreeus* beteken “vrome” en beskryf ’n groep wat waarskynlik tydens die Persiese era ont­staan het as opposisie teen die amptelike Judaïsme* wat deur die priesterlike hiërar­gie verteenwoordig is. Hierdie aristokrasie het toenemend onder die invloed van die Hellenisme* gekom, tot die misnoeë van die ‘am haarefl (gewone mense), wie se leiers die Hasidim was. Kenmerkend van hier­die groep was hulle klem op vroom­heid en hulle verbete vaskleef aan die tora*, sowel as strewe na wysheid. Hulle het ook vir apokaliptiese* denke gesorg. Hulle was egter ook op die praktyk gerig en word later deur die rabbi’s* “die manne van daad” genoem. Hulle was nie radikaal-militaristies nie, aangesien dit juis die Hasidim is wat volgens 1 Makkabeërs 2:29-39 gewei­er het om op die sabbat* te veg. Die invloed van die Hasidim word in verskeie groepe­rings gevind. Dit is waarskynlik dat die skrywer van die boek Daniël* uit dié kringe afkomstig was. Verder is daar direkte verbande te lê tussen die Hasidim, die Esseners en die Fariseërs.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar