FEDERALISME

FEDERALISME. Hierdie woord, wat ook ’n staatkundige term is, het in die teologie* ’n heel tegniese betekenis. Dit is afgelei van die Latyn foedus wat “verbond” beteken. Oor die leer van die erfsonde* word gevra op watter gronde die sonde van Adam* en Eva* destyds in die paradys* vandag aan ons toegereken word. Hierop is tradisioneel twee antwoorde verstrek. Die eerste – genoem realisme – het geredeneer dat ons almal, die biologiese nageslag van Adam, as ’t ware self “in die liggaam van die stamva­der” gesondig het (vgl Heb 7:10 vir ’n analoë geval). Hierteenoor sê die federa­lisme dat ons almal in ’n verbond van God met Adam ingesluit is. Ons verbondshoof, Adam, se sonde word nou vir ons toegere­ken, net soos Christus* die tweede Ver­bondshoof, se gehoorsaamheid ook vir ons toegereken word (vgl Rom 5:12-21).

Die probleem is dat nie een van dié twee redenasies regtig afdoende verduidelik hoe Adam se sonde op ons betrekking kan hê nie. Volgens die Skrif* is daar so ’n verband (vgl behalwe Rom 5 ook 1 Kor 15:22), maar hoe dit werk, kan klaarblyklik nie bevredigend verklaar word nie. Daarom bly federalisme, net soos realisme, slegs ’n menslike teorie.

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar