DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW)

DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW) (1936–) is ’n politieke leier en staatsman wie se dramatiese ommekeer in die Suid-Afrikaanse politiek reuse veranderings meegebring het. Hy het met ’n dapper maar riskante stap ’n totaal nuwe rigting aan die Suid-Afrikaanse samelewing en sosio-staatkundige toekoms gegee. Sy toespraak op 2 Februarie 1990 het onder meer die ontbanning van politieke organisasies en die vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela* meegebring. Hy het veral kans gesien vir dié kwantumsprong nadat die Oos-Europese kommunisme* onverwags oornag ineengestort het.

De Klerk het uit ’n huisgesin met ’n lang politieke betrokkenheid by die Nasionale Party en die Afrikaanse kerklike en kultuurlewe gekom (Kyk by: De Klerk, Johan­nes (Jan)*, en: De Klerk, Willem Johannes*). Hy is ’n  lidmaat van die Gerefor­meerde Kerke in Suid-Afrika* (GKSA)  en het gedurende sy amps­termyn openlik oor sy Christelike verbintenis getuig. Terwyl die GKSA een van die behoudendste gereformeerde* kerke is, was dit tot baie se verbasing dat juis ’n lidmaat van dié kerk die waagmoed van De Klerk aan die dag gelê het.

FW de Klerk het BA en LLB aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* verwerf, waarna hy as prokureur gepraktiseer het. Hy word in 1972 volksraadslid vir Vereeniging en in 1983 leier van die destydse Transvaalse Nasionale Party, en is toe algemeen beskou as ’n konserwatiewe politikus. In 1989 het hy hoofleier van die party geword en kort daarna staatspresident.

Dramatiese aankondigings het ’n inge­wik­kelde proses van onderhandelings en werwing van steun by die blanke kiesers­kor­ps ingelui. De Klerk se voorwaarde was dat die African National Congress (ANC) en alle ander groepe wat aan die beoogde onderhandelingsproses wou deelneem, eers van gewapende verset moes afsien en hulle ge­wapende magte moes ontbind. Ná lang huiwering het die ANC hiertoe ingestem. Andersyds was die verwagting by die ANC die oorhandiging van politieke mag aan hulle. Die veelparty-onderhandelingsproses by Kempton­park (Kodesa) het uiteindelik tot die aanvaarding van ’n tussentydse Grondwet gelei. In die verkiesing van 1994 het die Nasionale Party en sy vennote tog genoeg stemme vero­wer om seggenskap in ’n regering van nasionale eenheid te verkry. Die Grondwet is in 1996 gefinaliseer. In dieselfde jaar het De Klerk en sy party uit die regering van nasionale eenheid getree.

De Klerk het hom hierna aan die politiek onttrek en sy aandag veral aan sy stigting vir vrede en ontwikkeling, en die handhawing van die beginsels van die Grondwet, gewy.

Vir hulle bereidheid om ’n politieke skikking deur onderhandeling te bereik, het De Klerk en Nelson Mandela gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang.

FW de Klerk se rol om ’n totaal nuwe – en regverdiger – Suid-Afrika te help skep, kan moeilik oorskat word, hoewel kritiek op sommige van sy besluite en optredes in sy tyd as staatshoof en daarná geregverdig is. In Februarie 2015, ’n kwarteeu ná 2 Februarie 1990, is ter herinnering aan dié waterskeidende gebeurtenis die Tafelbaai-boulevard in Kaapstad (die eerste deel van die N1 wat na die Noorde lei) hernoem na die FW de Klerk-boulevard.

VRAAGGESPREK MET FW DE KLERK

Frits Gaum het in  September 2001 vir Kerkbode ‘n onderhoud met FW de Klerk gevoer.

Oudpres FW de Klerk se volgende afspraak was ‘n rondte gholf, maar daar was eers tyd vir ‘n uurlange gesprek in sy kantoor in Kaapstad. Hy lyk nog nes toe hy staatspresident was, dalk tog met ‘n paar nuwe plooie om sy oë. Daar het heelwat in sy lewe gebeur ná sy termyn as president. Maar hy is hartlik en so seker van homself en van wat hy wil sê soos altyd.

“Ek het twaalf jaar gelede, kort ná u waterskeidingstoespraak van 2 Februarie 1990, namens Kerkbode ‘n onderhoud met u in Tuynhuys gevoer,” herinner ek hom. “Toe het u met oortuiging oor u geloof in God en sy beskikking oor die wel en wee van mense gepraat …”

“Ja, dis nog altyd my lewensfilosofie. Ek glo nog! Ek is ook steeds lidmaat van die Gereformeerde Kerke – deesdae van die Paarlse gemeente waar ek dienste bywoon as ek kan. Elita, my vrou, gaan ook soms saam met my. Sy verstaan Afrikaans.”

FG: Het u die Suid-Afrika waarin ons nou leef voorsien toe u die 2 Februarie 1990-toespraak in die Parlement gemaak het?

FWdK: Tot ‘n groot mate ja. Natuurlik was daar op die pad teleurstellings. Maar ons het ‘n goeie Grondwet en ‘n goeie Handves van Menseregte. Ekonomies het die land gestabiliseer, maar die beleggersreaksie is ‘n teleurstelling. Ons het alles gedoen wat altyd gesê is nodig is om beleggers te lok, maar tog is daar steeds buitelandse skeptisisme.

FG: Waaroor is u dankbaar in vandag (2001) se Suid-Afrika – en wat bekommer u?

FWdK: Ek is dankbaar oor die stabiliteit in die land en oor die positiewe gesindheid wat by baie mense van alle bevolkingsgroepe aangetref word. Ek is bekommerd oor die ongesonde magsverdeling, oor één party se dominerende posisie. Dis nie goed vir die demokrasie nie. Ek is bekommerd oor die misdaad wat nie hok geslaan word nie. Ek meen ook dat die ongebalanseerde wyse waarop regstellende aksie toegepas word, nie goed is vir Suid-Afrika nie.

FG: U was op u dag ook minister van onderwys. Op die oomblik word die afskaling of uitskakeling van godsdiensonderrig soos ons dit tot nog toe in skole geken het, beplan. Bybellees en gebed tydens saalbyeenkomste kan ook dalk in die gedrang kom. U kommentaar?

FWdK: Die primêre verantwoordelikheid vir lidmate se godsdiensonderrig berus natuurlik by die kerk. Maar waar die oorweldigende meerderheid van ‘n skool se leerders aan ‘n bepaalde godsdiens behoort, en die ouer- en onderwysgemeenskap die behoofte het aan die erkenning van daardie godsdiens in die skool, moet dit kan gebeur.

Terwyl daar in ‘n basies-homogene skool ruimte vir die beoefening van ‘n bepaalde godsdiens moet wees, moet dit so gedoen word dat dit nie op die godsdiensvryheid van ander kinders inbreuk maak nie. ‘n Veldtog om godsdiens op die een of ander manier uit die onderwyssisteem te probeer verwyder, is myns insiens verkeerd. Dit maak inbreuk op die keusevryheid wat ons Grondwet waarborg.

FG: Hoe, dink u, sal Suid-Afrika oor tien jaar (in 2011) lyk? – Soos Zimbabwe?

FWdK: Ek is oortuig van nee. Die hoekstene van die nuwe bedeling in Suid-Afrika is veel stewiger gelê as die korttermynskikking waarin mnr Ian Smith twintig jaar gelede in Rhodesië/Zimbabwe ingedwing is. Daar is wigte en teenwigte in die Grondwet wat die dinge wat blykbaar in Zimbabwe aan die gebeur is, effektief kan voorkom. Ek meen ook dat Suid-Afrika ver genoeg wegbeweeg het van ‘n blote ras-gedefinieerde gemeenskap, en aan die vorder is op die pad van ‘n billiker verspreiding van welvaart, om te verseker dat ons nie in die Zimbabwiese strik trap nie. En ja, grondhervorming is in Suid-Afrika nodig, maar dan op ‘n ordelike wyse binne die bepalings van die Grondwet. Onteiening moet net plaasvind as dit absoluut noodsaaklik is en dan altyd gekoppel aan behoorlike vergoeding.

FG: Is daar ‘n belangrike besluit wat u in u lewe geneem het wat u graag óór sou wou neem?

FWdK: Die groot besluite wat ek geneem het, sal ek weer so neem. Ek sal weer die 2 Februarie-toespraak hou. Ek sal weer instem tot die bepalings van die oorgangs- en die finale Grondwet. Ek sal weer ‘n referendum soos dié van 1992 uitroep om die blanke kiesers te toets. Ek sal weer uit die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) tree …

FG: Waarom het u destyds uit die RNE getree?

FWdK: Ons wou hê dat ‘n raadgewende of konsultatiewe raad in die lewe geroep word om ná die aanvaarding van die finale Grondwet op ‘n permanente basis oor groot sake van landsbelang te vergader en die regering daaroor te adviseer. So ‘n raad sou op ‘n konsensusbasis werk en daarna strewe om oor partygrense heen die grootste moontlike mate van eenstemmigheid oor spesifieke sake van gemeenskaplike belang te probeer kry. Maar toe ons dit nie kon regkry nie, was daar nie meer sin in om tydelik in ‘n RNE te bly dien nie. Om terug te keer na die vorige vraag: Daar is wel ’n paar besluite oor kleiner sake wat ek sou wou oorneem. Maar nie grotes nie.

FG: Oudpres Mandela is nog dikwels in die nuus. U ‘n bietjie minder. Watter rol sien u vir uself in ons land in die volgende paar jaar?

FWdK: Ek wil nie ‘n hoëprofielrol speel nie. Maar ek probeer nog om ‘n bydrae te lewer. Die FW de Klerkstigting is goed gevestig. Daarmee wil ons onder meer ‘n waghondmeganisme ten opsigte van die Grondwet skep, en help dat mense sinvol met mekaar kan praat in plaas daarvan om op mekaar te skree. Ons wil kommunikasie probeer bevorder waaruit konsensus oor belangrike vraagstukke bevorder kan word. Van mnr Mandela gepraat: ek en hy het die strydbyle begrawe en daar is deesdae ‘n goeie verhouding tussen ons. Ons het saam die nuwe bedeling tot stand help bring en sien dit steeds as ons verantwoordelikheid om ‘n bydrae te lewer dat dit werk.

FG: U is nog altyd vir mense ‘n rolmodel, maar u destydse egskeiding was vir talle ‘n groot teleurstelling. U skryf ook in u boek, “Die laaste trek”, daaroor. Het u iets by te voeg?

FWdK: Liefs nie. Die moeilike keuse was daardie tyd om óf ‘n leuen te bly  lewe óf te skei. Ek het gekies en om vergifnis gevra.

FG: Dink u die Afrikaners se wiele is pap?

FWdK: Die bande het nie gebars nie. Afrikaners gaan deur ‘n proses van besinning en ‘n herevaluering van hulle rol noudat hulle nie meer die regeringsmag beheer nie. Daar is na my mening ‘n oplewing onder Afrikaners, ‘n nuwe dinamiek, maar dié keer ‘n dinamiek wat in elke sin van die woord moreel regverdigbaar en verdedigbaar is.

FG: En die Afrikaanse kerke?

FWdK: Die Afrikaanse kerke gaan ook deur ‘n tyd van aanpassing. Daar is bemoedigende tekens dat die Afrikaanse kerke besig is om hulle voete in die nuwe bedeling te vind. Die kerke moet, meen ek, naas hulle primêre taak om lidmate godsdienstig te begelei, betrokke raak by die geweldige maatskaplike problematiek in Suid-Afrika.

FG: Het u ‘n boodskap vir die jongmense van ons land?

FWdK: Ek glo daar wag ‘n goeie toekoms vir ál die jongmense van ons land. Ek het begrip vir die onrustigheid oor ongebalanseerde regstellende aksie, maar meen dat die pendulum binnekort na ‘n meer gebalanseerde situasie sal swaai. En jongmense wat ‘n ruk lank na die buiteland gaan om ondervinding op te doen, moet die geleenthede aangryp … en dan weer na ons land terugkom met nuwe insigte en die voordeel van ‘n breër ervaringsveld.

FG: Is jy gelukkig, FW?

FWdK: Ja, ek is gelukkig.

(Kerkbode, 21 September 2001)

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar