COMBRINK, HANS JACOB BER­NARD

COMBRINK, HANS JACOB BER­NARD (1940–) behaal aan die Universiteit van Pretoria sy BA, BD en BA Honneurs (Grieks*) almal met lof. Hy verwerf sy doktorsgraad in 1969 aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam met as proefskriftitel Die diens van Jesus. ’n Eksegetiese beskouing oor Markus 10:45. Hy was eers predikant* van die NG Gemeente Wonderboom (1968–1970), en daarna senior dosent in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (1970–1973) en senior lektor en later mede-professor aan die Universiteit van Pretoria (1974–1976). Hy verskuif  na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1982 mede-professor en in 1988 volle professor en hoof van die departement Nuwe Testament* word. Hy was vir twee termyne dekaan van die Teologiese Fakulteit. Ná sy aftrede in 2001 dien hy as  voorsitter van die Nuwe-Testamentiese Navorsings­genoot­skap aan die Universiteit van Stellenbosch.

Combrink spesialiseer mettertyd veral op die Matteus-Evangelie* en die meto­diek van die Nuwe Testament*, en ontvang in 2004 die Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir We­ten­skap en Kuns vir sy werk as Bybel­ver­taler. Hy is in 2004 aangewys as projekleier vir die volgende amptelike Afrikaanse By­bel­vertaling waarvan die eerste deel, Nuwe Testament en Psalms – ’n Direkte Vertaling, in 2014 verskyn het. Combrink is en was lid van talle uitgelese plaaslike en oorsese wetenskaplike instellings, onder andere van die Societas Novi Testamenti Studiorum. Op kerklike ge­bied het hy ’n belangrike bydrae gelewer, ook as lid van die Algemene Sinodale Kom­mis­sie van die NG Kerk*. In 1980 was hy een van die ondertekenaars van die Hervor­mingsdaggetuienis* wat krities was oor die destydse staatsbeleid van apartheid* en die NG Kerk se houding daarteenoor en groot aandag getrek het.

AB du Toit.

10 VRAE AAN BERNARD COMBRINK

Die derde amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans het in 2020 by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika verskyn: “Die 2020-vertaling”. Die vorige vertalings is dié van 1933/53 en 1983. Prof Bernard Combrink was die projekvoorsitter wat hierdie omvangryke taak aangepak en deurgevoer het. Die Andrew Murray-prysfonds het in Maart 2020 aangekondig dat aan prof Combrink ‘n spesiale Andrew Murray-toekenning gegee word vir sy werk aan hierdie vertaling. Frits Gaum het tien vrae aan hom gestel.

1 – Sal die 2020-vertaling, ten spyte van die Covid-19-pandemie en alles wat daarmee saamhang, nog vanjaar verskyn?

Die bekendstelling van die 2020-vertaling word steeds beplan vir 29 November 2020 in die Kopanong-ouditorium (Studentekerk), Bloemfontein. Indien dit later blyk dat die bekendstelling vanweë die pandemie nie soos beplan kan plaasvind nie, sal die vertaling in elk geval van dan af beskikbaar wees.

2 – Hoe lank is aan dié Bybelvertaling gewerk en wie was die hoofmedewerkers?

Sedert 1991 is daar by die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) (KABA) meermale die versoek om ‘n nuwe “konkordante” vertaling geopper. KABA is die komitee wat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) oor sake rakende die Bybel in Afrikaans adviseer en waarin alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, verteenwoordig is. Ná intensiewe navorsing het KABA op 25 Oktober 2004 die BSA versoek om met ‘n nuwe vertaling te begin.

Op 17 Februarie 2005 keur die BSA KABA se versoek goed en versoek daarna die kerke van KABA om vertalers te benoem. Vervolgens gee die BSA die vakverenigings vir Afrikaanse taal-, letterkundiges en taalpraktisyns kennis dat belangstellendes aansoek kan doen om as intravertalers oorweeg te word. Gedurende 2005 word heelwat voorbereidende werk gedoen sodat die vertalingswerk amptelik in 2006 kon begin. Op 1 Julie 2019 is die vertaling deur die begeleidingskomitee aan die BSA oorhandig vir verdere kontroles en prosessering met die oog op publikasie.

Benewens die vertaalspanne vir elke boek, was daar drie redaksionele komitees (Ou Testament, Nuwe Testament en Deuterokanonieke boeke) wat die vertaling deur boekspanne en daarna deur benoemde kerklike lesers en ander belangstellendes oorweeg het. Die begeleidingskomitee was verantwoordelik vir beleidsbesluite en om seker te maak dat vertalers aan die vertaalopdrag getrou bly. Die name van alle komiteelede en medewerkers word in die “Verantwoording” agter in die Bybel verstrek.

3 – Jammer vir die vraag wat jy al dikwels moes beantwoord, maar dis tog belangrik om dit weer te vra: Was ‘n derde “amptelike” vertaling van die Bybel in Afrikaans (1933/53, 1983 en nou in 2020) regtig nodig? Waarom?

Alle kerke wat aan KABA behoort, het nie noodwendig ’n “amptelike” vertaling nie, maar KABA maak dikwels aanbevelings oor watter vertaling(s) in die erediens gebruik kan word.

Alle vertalings deur die BSA poog om aan die bronteks getrou te bly. Die “bronteks” is die naaste betroubare teks(te) wat ons aan die oorspronklike Bybelteks het (ons beskik nie oor die oorspronklike tekste nie). Vertaalkunde het egter ontwikkel sedert die 1933/1953-vertaling toe geoordeel is dat, om aan die bronteks getrou te bly, dit woordeliks vertaal moet word. Die 1983-vertaling het, soos die meerderheid Bybels van die laaste helfte van die 20ste eeu, ’n ander vertaalbenadering gevolg, ‘n sg dinamies-ekwivalente vertaling. Intussen het die vertaalkunde nog verder ontwikkel.

By KABA het dit duidelik geword dat daar in Afrikaanssprekende kerke die behoefte aan ‘n Bybelvertaling bestaan wat sterker aansluit by die Hebreeuse, Aramese en Griekse brontekste as die bestaande vertalings, maar tog ook die vreemdheid en andersheid van die Bybel as antieke godsdienstige teks weerspieël. So ’n vertaling wil dus nie die Bybel vir moderne lesers aanpas aan hulle eie leefwêreld nie, maar hulle eerder inlei in die tyd en leefwêreld van die Bybel. Dit moet egter steeds in goeie en idiomatiese Afrikaans wees en die letterkundige aard en struktuur van die bronteks weerspieël. Meer onlangse taalkundige modelle, asook die moontlikhede wat rekenaarprogramme bied, het ook ons kennis van die Bybeltale in die afgelope aantal jare laat toeneem.

4 – Wat is die belangrikste verskilpunte as die 2020-vertaling met die voriges vergelyk word?

Hoewel die bronteks so getrou moontlik weergegee word, is dit nie ‘n woordelikse vertaling soos die 1933/53-vertaling nie. In die 2020-vertaling word daar groter klem gelê op die vertaling as ’n voorleesbare teks in vloeiende Afrikaans as wat by woordelikse vertalings die geval is. Anders as die 1983-vertaling poog die 2020-vertaling om die Bybelse bronteks en leefwêreld so ver moontlik te weerspieël. Die terminologie van die brontaal (soos sikkels, handbreedte, el en dagreis) word so ver moontlik gehandhaaf. Moderne lesers se wêreld word eerder met behulp van inleidings by boeke, voetnote, kruisverwysings, sosiokulturele inligting, 12 kaarte en ’n woordelys verbreed, om sodoende hulp te verleen met die verstaan van vreemde begrippe, metafore en beelde, mate en gewigte. Dit sluit aan by ’n ou tradisie, soos ook weerspieël in die destydse Statenvertaling. Daar word in voetnote soms daarop gewys dat daar ander geldige en bekende vertaalmoontlikhede bestaan, of dat daar onsekerheid is oor die betekenis van die bronteks. Besondere aandag is gegee aan die vorm van liedere en gedigte, sodat die eie aard van Bybelse poësie so ver moontlik behoue kon bly.

Naas die uitgawe met die Ou en Nuwe Testament, is daar ook ‘n uitgawe wat die Deuterokanonieke Boeke bevat. Die eerste uitgawe van Die Bybel met Deuterokanonieke boeke is in 1965 deur die Bybelgenootskap gepubliseer. Wanneer dit deur kerke versoek word, voorsien die Bybelgenootskap graag die Deuterokanonieke boeke in al die tale van Suid-Afrika, veral vir gebruik deur die Anglikaanse, Katolieke en Lutherse Kerke. Vir die 2020-vertaling is die Deuterokanonieke boeke op dieselfde wyse as die Ou en Nuwe Testament vertaal.

Daar is ook ’n uitgawe waarin hoofletters onder andere vir voorname in Ou Testamentiese tekste wat deur skrywers in die Nuwe Testament op Jesus as die Christus van toepassing gemaak is, en wat in die 1933/53-vertaling met hoofletters geskryf is, so behou word. Sedert die 1983-vertaling het bepaalde kerke oor die kleinletters in hierdie gevalle bedenkinge gehad. Ofskoon die 2020-vertaling met kruisverwysings en voetnote in die Ou en Nuwe Testament oor en weer die heenwysings na Jesus Christus aandui, was daar steeds bedenkinge. Dit is vir die BSA so belangrik om alle kerke met die Bybel te bedien, dat tot hierdie uitgawe ingestem is. Die Werkkomitee wat die BSA hieroor geadviseer het, het bestaan uit verteenwoordigers van die Afrikaanse Baptiste Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, die Pinkster Protestantse Kerk, die Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika, met as waarnemers die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Hierdie uitgawe stem verder in alle opsigte ooreen met die gewone uitgawe.

Die werkwyse verskil ook aansienlik van vorige vertalings deur die Bybelgenootskap. Vir die eerste keer is alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by die vertaalproses betrek. Anders as voorheen, het professionele Afrikaanse vertalers, letterkundiges en taalkundiges dwarsdeur die hele proses ‘n wesenlike rol naas eksegete en brontaalkenners gespeel. ‘n Groot aantal vroue is ook deel van die vertaalspanne.

5 – Is die “direkte” 2020-vertaling dus nader aan die “woordelikse” 1933/53-vertaling as aan die meer “dinamiese” 1983-vertaling?

Ja, maar dit is beslis nie net ’n woordelikse vertaling nie. “Direkte vertaling” is ’n tegniese term met ’n baie bepaalde betekenis binne ’n akademies verantwoordbare vertaalmodel. Dit wil die Bybelse spreker/skrywer uit die antieke leefwêreld se Hebreeuse/Aramese/Griekse woorde presies weergee asof in direkte rede, maar in goeie, idiomatiese en voorleesbare Afrikaans, sonder om dit aan te pas aan die leefwêreld van Afrikaanse lesers. .

6 – Veroorsaak die baie vertalings nie verwarring onder Bybellesers nie? Watter vertaling is nou “reg” of “die beste”?

Dit is interessant dat in die meeste vertalings in Afrikatale wat deur die Bybelgenootskap voorsien word, dieselfde ontwikkeling in vertaalbenadering van “woordeliks”, na “dinamies”, na “direk” te bespeur is. Daar is eintlik ’n breë spektrum van vertaalbenaderings moontlik, van woordeliks tot baie vry, of selfs parafrase van die teks. Dit is verder belangrik om te weet of die opdraggewer van die vertaling ’n Bybelgenootskap, ’n bepaalde denominasie, of ’n private uitgewer is, en wat die aard van kwaliteitskontrole daarvan is. Daar is ook vertalings met die oog op spesifieke behoeftes, soos lesers wat doof gebore is. Indien ’n leser hierdie aspekte in ag neem, kan persoonlike Bybelstudie verryk word deur aanvullend van ander verantwoorde vertalings gebruik te maak. Alle vertalings bly egter mensewerk wat feilbaar is en met groot verantwoordelikheid gedoen behoort te word.

7 – Bernard, jy het persoonlik as voorsitter ‘n baie groot rol gespeel om hierdie reuse-projek enduit deur te sien. Het jy soms moedeloos geraak – jou gesondheid was ook nie altyd van die beste nie – en lus gevoel om tou op te gooi?

Dit was aanvanklik ’n groot uitdaging om met ongeveer 179 medewerkers kontak te behou, om almal te kry om werklik die vertaalopdrag te aanvaar en hulle aan spertye te hou. Die verwagting was dat ons met behulp van die merkwaardige rekenaarprogram Paratext maklik teen 2014 klaar kon wees. Op enkele uitsonderings na het die medewerkers wat hierdie taak as ’n liefdestaak aangepak het, almal in voltydse beroepe gestaan (dosente, predikante, taalpraktisyns). Hulle was aan al die werklikhede en druk van die lewe blootgestel. Die komplekse proses is dus noodgedwonge in sommige gevalle ingekort om darem klaar te kom. Sommige medewerkers moes ongelukkig onttrek, ander (ook lede van die begeleidingskomitee en redaksionele komitees) het ons ontval, en verskeie het in hulle persoonlike lewens deur diep waters gegaan. Dan was daar ook van tyd tot tyd selfs ongegronde verdagmaking teen die Bybelgenootskap en die vertalers. Maar die verwagting van die kerke, die entoesiasme en lojale ondersteuning van kollegas (wat ware vriende geword het), het dit moontlik gemaak dat die projek tog deur die genade van die Here afgehandel kon word.

8 – Jy het jou merk as Nuwe-Testamentikus in die Afrikaanse teologie gemaak, en was ook een van die agt vooraanstaande teoloë wat die nou beroemde Hervormingsdaggetuienis van 1980 onderteken het. Daarmee het julle die vinger gelê op seerplekke in die destydse apartheid-samelewing en die NG Kerk se traagheid om ‘n duidelike stem daaroor te laat hoor. Is daar nou ook nodigheid vir so ‘n profetiese getuienis in ons land?

Ons leef tans in heel ander tye. Daar is vandag sekerlik nog talle seerplekke in ons huidige samelewing waaroor daar in die NG Kerk soms uiteenlopende stemme gehoor word. Maar miskien is dit juis die dade van barmhartigheid en liefde tydens die uitmergelende droogte en die Covid-19-pandemie wat ’n ander en helder profetiese getuienis van die NG Kerk saam met ander as deel van die liggaam van Christus lewer. Mag dit ook hierna steeds die profetiese getuienis van die NG Kerk kenmerk.

9 – Wat beskou jy as die hoogtepunt van jou loopbaan?

Eintlik maar net die wonderlike voorreg om geroep te wees tot diens in verskeie hoedanighede: ’n kort rukkie in die gemeente Wonderboom, daarna by drie universiteite (RAU, UP, US – lg ook in die tyd van die aansluiting van die Verenigende Geref Kerk se teologiese opleiding by US in 2000), en dan om by twee Bybelvertalings (Die Bybel vir Dowes en die 2020-vertaling) betrokke en ekumenies diensbaar te kon wees.

10 – Waarmee gaan jy jou na dese besig hou?

Om die Bybel te lees sonder om op leestekens, kodes, merkers vir voetnote en vingerglipse in die teks te moet let! Dan is daar soveel agterstallige leeswerk in die teologie en letterkunde waarby ek graag sal wil uitkom. En dalk is daar tog vir ons “oues van dae” weer ná die pandemie meer tyd saam met ons familie en kinders beskore!

e-Kerkbode, 24 Junie 2020

Kommentaar

Ons wil graag van jou hoor ... gee jou kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Sidebar