Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Skuif die kieslys heen en weer

AUGUSTINUS, AURELIUS

Skrywer: JW Hofmeyr, FM Gaum

AUGUSTINUS, AURELIUS (354–430) is in Thagaste in Noord-Afrika gebore uit ’n pa, Patrisius, wat tot laat in sy lewe nie ’n Christen was nie, en ’n ma, Monica, wat die Christelike geloof* aangehang het. Uiteindelik sou dit blyk dat sy ’n baie groot invloed op sy lewe uitgeoefen het, onder meer deurdat sy jare lank vir sy bekering* gebid het. Tydens sy opleiding in Kartago, Noord-Afrika, en ’n taamlike wilde jongmanslewe, is Augustinus se buite-egtelike seun, Adeodatus, gebore. In 384 het hy na Rome* en Milaan vertrek waar hy opgetree het as leraar in die retorika. Sy ma het hom daarheen gevolg. Augustinus het steeds die Manicheïsme* (met eie sienings oor goed en kwaad, en wat Christus* en die kerk* bestry het) aangehang. In 386 het hy tot bekering gekom in ’n tuin in Milaan, daartoe beweeg deur Rom 13:13-14. Op Paassondag 387 is hy saam met sy seun Adeodatus en sy vriend Alipius deur Ambrosius* gedoop. In 388 het hy na Thagaste teruggekeer. Hy het sy besittings verkoop en saam met vriende in ’n soort klooster*gemeenskap geleef. In 396 het hy biskop van Hippo Regius geword. In hierdie tyd skryf hy van sy belangrikste werke, waaronder Confessiones; De Trinitate; De baptismo; De unitate ecclesiae. Hy het in 413 begin skryf aan sy beroemde werk, De civitate Dei (Die stad van God), wat hy in 426 voltooi het. In 426/427 het hy sy Retractationes geskryf waarin hy sommige van sy vroeëre uitsprake teruggetrek het. Augustinus het ’n enorme invloed op die kerk se denke uitgeoefen in verband met talle sake, onder meer die predestinasie*, erfsonde* en ook seksualiteit* waar hy van sy vrye benadering voor sy bekering tot ’n besonder eng beskouing beweeg het.

Vir verdere lees: A Sizoo 1957. Augustinus: leven en werken. Kampen: JH Kok. Frits Gaum 1975. Hy sal groot genoem word. Stramien vir ’n roman. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Print Friendly, PDF & Email
Deel hierdie blad:
Opgedateer: 2 Apr, 2017

0 Comments

Submit a Comment

Om kommentaar te lewer op lemmas, foute uit te wys, voorstelle vir nuwe lemmas te maak of byvoegings aan die hand te doen, voltooi asb die onderstaande vorm en e-pos dit aan: Die Hoofredakteur: eCKE by [email protected]

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui